Media Releases & News

Vas vir ’n Leeftyd – Hoe Groot Tabakmaatskappye Jongmense Verlei

English Media Release

23 April 2018 – KANSA, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en vennote omsirkel elke jaar die datum van 31 Mei om die wêreld te waarsku teen die gebruik en gevare van tabakprodukte. Die doel is om voorspraak te maak om doeltreffende maatreëls te tref om tabakverbruik te verminder.

Wêreldwyd word gefokus op die verband tussen tabakgebruik en hart- en ander kardio-vaskulêre siektes, insluitend beroerte – saam is hierdie die wêreld se grootste oorsake van sterftes.

Elize Joubert, KANSA se HUB sê: “In Suid-Afrika is ons bekommerd oor die groot las wat tabak op die samelewing plaas en veral die strategieë wat deur die tabakindustrie gebruik word om die jeug te teiken.¹ Navorsing bewys dat die gebruik van tabak gewoonlik ‘n aanvang neem en verslawing aan tabak gevestig word tydens adolessensie en jong volwassenheid.”

Rook is een van die mees voorkombare oorsake van siekte en vroegtydige sterftes wêreldwyd. Die wêreldwye tabakepidemie is jaarliks verantwoordelik vir die dood van meer as 7 miljoen mense. SA se Nasionale Gesondheid- en Voeding Ondersoekopname 2013 (‘SA National Health and Nutrition Examination Survey (SANHANES) 2013, het bygedra tot die bewys dat Suid-Afrika se omvattende tabakbeheerstrategie van die afgelope 20 jaar groot sukses behaal het in die vermindering en die voorkoms van rook en die algemene verbruik van tabakprodukte. Dit wys dat 32.8% mans wel in hul leeftyd gerook het in vergelyking met 10.1% vroue.

Die aanvanklike sukses van wetgewing van die laaste 20 jaar rakende tabakbeheer, soos die Wysigingswet op die Beheer van Tabakprodukte 12 van 1999, verhogings in aksynsbelasting op sigarette en intervensies rakende gesondheidsbevordering en die risiko’s van tabakgebruik, het gelei tot ‘n aanvanklike vermindering van 30% in die voorkoms van tabakgebruik onder skoliere gedurende die tyd.

Suid-Afrika

Suid-Afrika per provinsie

Ten spyte hiervan toon die Wêreldwye Opname van Tabakgebruik van 2008 tot 2011 ‘n toename in die voorkoms van rokers onder jong mense, en veral meisies in SA.

Tabakmaatskappye se taktiek is om sistematies marknavorsing te doen om inligting in te win oor bevolkingsneigings, rookgewoontes en verbruikers se houding ten opsigte van rook. Navorsing bewys dat byna 90% van rokers begin rook voordat hulle 18 jaar oud is en 99% begin rook teen die ouderdom van 26.

Deur die smaak, reuk en ander sensoriese eienskappe van tabakprodukte te verander en volgens smaak te wysig, werf die tabakmaatskappye makliker nuwe rokers – waarvan die meerderheid jeugdiges is – en so maak hul seker dat vandag se kind môre se roker sal bly wees. Bymiddels wat die tabakbedryf gebruik om nuwe rokers te lok, sluit in:

Levulensuur verminder die ruheid van nikotien en veroorsaak dat dit die rook makliker en minder irriterend vir die gebruiker maak
Geurmiddels soos sjokolade en droplekkers (liquorice) word gebruik om tabakprodukte te versoet. Dit maskeer die ruheid en onaangename reuk van sigaret- en pyprook en dra daartoe by dat tabakprodukte meer aanloklik vir jong mense word
Brongodilators vergroot die longe se lugweë, maak dit oop en dit maak dit makliker vir rook om die longe te bereik
Mentol verkoel en verdoof pyn in die keel wat op sy beurt irritasie van die keel teenwerk en dit vir die roker meer aangenaam maak om te rook

“KANSA doen ‘n beroep op jongmense, wees bewus van hierdie taktiek en verstaan dat hierdie wysigings aan produkte, alhoewel dit die ervaring verbeter, glad nie die langtermyn negatiewe effek van rook of die risiko van verskeie kankers verminder nie,” voeg Joubert by.

Hoe Groot Tabalmaatskappye Kinders Teiken

Verder waarsku KANSA ook teen die gebruik van hubbly bubbly, hookah- of waterpype. Alhoewel gewild onder die jongmense terwyl hul sosialiseer met vriende, is dit belangrik om kennis te neem dat tabak in so ‘n pyp nie minder giftig is as in ander tabakprodukte nie. Water in die hookah filter nie die giftige bestanddele in die tabakrook uit nie. Dit is moontlik dat hookah rokers eintlik meer rook inasem as sigaretrokers, weens die groot volume rook wat ingeasem word in een rooksessie. Die verkoop van hookahs en –produkte aan enigiemand onder die ouderdom van 18 is verbode.

Elektroniese sigarette (e-sigarette) en soortgelyke toestelle word gereeld bemark as ‘n manier om ‘n persoon se rookgewoonte te staak of as ‘gesonder’ alternatiewe as tabakprodukte.

Joubert bevestig, “Hierdie is egter nog nie bewys nie. E-sigarette bevat nikotien en is dus verslawend. Dit mag jong verbruikers aanmoedig om tabakprodukte as alternatief te rook. Elektroniese sigarette is in besonder skadelik en verslawend vir jongmense onder die ouderdom van 25 aangesien iemand jonger as 25 se brein nog besig is om te ontwikkel. Dit maak dit vir jongmense makliker om verslaaf te raak aan nikotien nadat hulle slegs aan klein hoeveelhede nikotien blootgestel word, en dit bevat ook ander skadelike chemikalieë. Ander bewese metodes om op te hou rook word eerder aanbeveel.”

E-sigarette

Berading en Medikasie Help Om Rookgewoonte te Staak

KANSA moedig jong rokers wat enige tabakproduk begin gebruik het aan om ondersteuning te kry om op te hou rook. KANSA het ‘n unieke gratis aanlyn eKickButt program vir mense wat wil ophou rook. Berading en medikasie kan iemand wat die rookgewoonte wil staak, se sukses verdubbel.

¹https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2556031/

Meer Oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

Vir meer inligting besoek www.cansa.org.za, of kontak KANSA tolvry by 0800 22 66 22 of of stuur ‘n epos na info@cansa.org.za – volg KANSA op Twitter, Facebook, en Instagram. KANSA bied veeltalige ondersteuning aan op  Whatsapp: 0721979305 vir Engels en Afrikaans en 0718673530 vir Xhosa, Zulu, Sotho and Siswati.


« BACK


Do you have a question?