Media Releases & News

Aanvaar Eienaarskap vir Vrouegesondheid

Aanvaar Eienaarskap vir Vrouegesondheid

English Media Release

Borskanker

18 September 2018 – Gedurende Oktober fokus KANSA op die belangrike rol wat vroue kan speel om eienaarskap te aanvaar vir hul persoonlike gesondheid. Volgens statistieke van die Nasionale Kankerregister (NKR) 2014 is die top vyf kankers wat vroue in Suid-Afrika affekteer die volgende: borskanker; servikale kanker, kolorektale kanker, kanker van die baarmoeder en longkanker. Sien Infografieke

Elize Joubert, Hoof Uitvoerende Beampte van KANSA, sê: “Dit is belangrik om vroue te bemagtig met kennis aangaande die verlaging van risiko’s vir kanker en algemene gesondheid onder vroue en om kennis te neem van waarskuwingstekens. Ons moedig ook vroue aan om maandelikse selfborsondersoeke te doen, jaarlikse mediese ondersoeke te ondergaan en om gereelde siftingstoetse vir kanker te laat doen. Dit kan vroeë opsporing van die siekte verbeter omdat simptome nie altyd ondervind en opgemerk word voordat die kanker versprei het nie. Vroue behoort ‘n gesonde en gebalanseerde lewenstyl te handhaaf en te besef dat lewenstylfaktore hul kankerrisiko kan verhoog.”

Laai PDF af…

Borskanker

Suid-Afrikaanse vroue se leeftyd risiko vir borskanker is 1 in 27. Op Vrydag, 26 Oktober 2018 bied KANSA SorgSentrums landwyd ‘n Kliniese Borsondersoek Siftingsdag aan. Op die spesiale dag sal KANSA vroue leer hoe om self borsondersoeke te doen en Professionele Verpleegkundiges sal Kliniese Borsondersoeke doen. Mobiele Gesondheidsklinieke sal dieselfde dienste aanbied vir vroue in afgeleë gebiede. Sien skedule vir September & Oktober.

Melissa Willemse, ‘n kankeroorwinnaar van borskanker sê: “Wanneer dit by borskanker kom, is ouderdom nie ‘n faktor nie. Toe ek ‘n pynlike knop onder my arm ontdek het, het ek ‘n dokter gaan spreek. Die eerste dokter wat my ondersoek het, het dadelik my vraag en bekommernis aangaande die knop verwerp. Hy het gesê ek was te jonk vir borskanker. Toe ek uiteindelik ‘n tweede opinie ingewin het, het ons uitgevind dat ek fase 3 Drievoudige negatiewe borskanker gehad het. Die eerste keer was ek 28 jaar oud en nou op die ouderdom van 32 het ek behandeling voltooi vir borskanker wat teruggekeer het. As jy voel iets is verkeerd moenie huiwer om ‘n tweede opinie in te win nie. Kanker gee nie om hoe oud jy is nie.”

KANSA beveel aan dat alle vroue vanaf die ouderdom van 40 jaar elke jaar ‘n mammogram moet ondergaan. Die doel hiervan is om siftingstoetse te ondergaan vir borskanker wat nie as gevolg van simptome opgespoor word nie. Besoek die CANSA webwerf vir ‘n lys van openbare hospitale en klinieke wat mammogramme doen asook vir mammogramme teen ‘n moontlike spesiale verlaagde prys gedurende Oktober by Radiologiese Vereniging van Suid-Afrika geaffilieerde klinieke.

KANSA SorgSentrums bied ‘n verskeidenheid borsprotese aan dié wie ‘n mastektomie/lumpektomie moes ondergaan teen bekostigbare pryse en bied advies aan die kankeroorwinnaar om die newe-effekte van kankerbehandeling te hanteer.

Servikale Kanker

Die tweede mees algemene kanker onder vroue in SA is servikale kanker (lewenslange risiko van 1 in 42). KANSA se aanbeveling is Papsmeer-toetse – ongemaklik maar pynloos – om te help om nie net die risiko van servikale kanker te verminder nie, maar ook om dit vroeg te diagnoseer.

Verpleegkundiges by KANSA SorgSentrums bied Papsmeer-toetse aan en KANSA se Mobiele Gesondheidsklinieke verskaf die diens ook in verafgeleë gebiede wat ver van klinieke is. KANSA ondersteun die Departement van Gesondheid se HPV Skoolinentingsprogram. Voortdurende infeksie met HPV kan lei tot servikale kanker, so alle vroue in die ouderdomsgroep van 9-26 jaar (mits hulle nie seksueel aktief is nie) kan ingeënt word.

Vroue wat gebruik maak van openbare gesondheidsdienste vir siftingstoetse is geregtig op drie gratis Papsmere per leeftyd. Dit geld vir vroue van 30 jaar en ouer met ‘n interval van 10 jaar tussen elke Papsmeer. Vroue wat as hoë risiko gesien word, insluitend vroue wat MIV+ is, kan meer gereeld aanmeld.

Kolorektale Kanker

Die meeste kolorektale kankers begin as ‘n poliep wat verwyder kan word gedurende ‘n kolonoskopie prosedure. Indien vroue abnormale simptome ervaar, moet hulle ‘n verwysing vir ‘n kolonoskopie versoek en bekom. ‘n Kolonoskopie is ‘n siftingstoets vir kanker. KANSA se aanbeveling is dat vroue vanaf die ouderdom van 50 elke tien jaar ‘n kolonoskopie ondergaan.

“Ek is ‘n oorwinnaar van kolorektale kanker,” sê Carima Adams. Ek was 28 jaar oud toe ek met laat fase 3 kolorektale kanker gediagnoseer is. Ek het simptome ervaar, maar die dokters het my siektetoestand telkens verkeerd gediagnoseer. Uiteindelik het ek direk na ‘n spesialis gegaan wat my met kolorektale kanker gediagnoseer het. As jy enige bloed of slym in jou stoelgang opmerk, gaan sien sonder versuim ‘n algemene mediese praktisyn of spesialis.”

Sommige KANSA SorgSentrums en Mobiele Gesondheidklinieke bied ‘n fekale okkulte bloedtoets aan om vir bloed wat in die stoelgang versteek is, te toets.

‘n Newe-effek van kolorektale kanker kan die gebruik van ‘n kolostomie-sakkie noodsaak,” sê Joubert. “Ons bied voor- en na-operatiewe berading en ondersteuning aan deur middel van ons ondersteuningsgroepe by ons Stoma Klinieke. Ons verkoop ook stomavoorraad en waarborg die laagste pryse, professionele bystand en vinnige aflewering.”

Kanker van die Baarmoeder

Die mees algemene vorm van hierdie kanker affekteer die voering van die baarmoeder. Vroue van 50 jaar en ouer wat diabete is, ‘n familiegeskiedenis van kanker van die baarmoeder het of endometriale poliepe het, se risiko is groter. Ander risikofaktore sluit die volgende in: oorgewig, ‘n onaktiewe leefstyl, die inname van alkohol, swak eetgewoontes en rook.

Longkanker

Namate die aantal vroue wat rook toeneem, word die aantal vroue wat met longkanker gediagnoseer word, ook meer en meer. By vroue wat ophou rook verlaag die risiko om longkanker te ontwikkel aansienlik. Vroue wat graag wil ophou rook, kan aansluit by KANSA se Kick Butt aanlynprogram.

KANSA se ondersteuning aan kankerpasiënte sluit ook die volgende in: mediese toerusting om te huur, pruike, berading, ondersteuningsgroepe, aanlyn ondersteuning en hulpbronne, sowel as KANSA Sorgtuistes wat verblyf verskaf aan pasiënte wat behandeling ver van die huis ontvang.

“KANSA befonds ook navorsingsprojekte by tersiêre instellings wat handel oor borskanker: sifting, verbetering van die bestuur, rehabilitasie en die verbetering van lewensgehalte. Ons befonds ook verskeie projekte oor servikale kanker,” voeg Joubert by.

Vir meer inligting skakel asseblief vir Lucy Balona, Hoof: bemarking en Kommunikasie by KANSA, stuur ‘n epos aan lbalona@cansa.org.za of skakel 011 616 7662 of selnommer 082 459 5230.

Meer oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte.

Navrae KANSA

Besoek www.cansa.org.za of kontak jou naaste KANSA SorgSentrum, skakel KANSA tolvry of kontak jou naaste KANSA SorgSentrum, skakel KANSA tolvry 0800 22 66 22 of stuur ‘n epos aan: info@cansa.org.za. KANSA bied meertalige ondersteuning aan op Whatsapp: 0721979305 vir Engels en Afrikaans en 0718673530 vir  Xhosa, Zulu, Sotho en Siswati.  Volg KANSA op Twitter: @CANSA (http://www.twitter.com/CANSA), sluit aan by KANSA op Facebook: CANSA The Cancer Association of South Africa en volg KANSA op Instagram: @cancerassociationofsouthafrica


« BACK


Do you have a question?