Media Releases & News

Three Friends

Vertel Haar, Vertel Hulle

Three FriendsEnglish Press Release…

17 Augustus 2015 – KANSA verhoog gedurende September en Oktober bewustheid van Vroue Gesondheid met die “Vertel haar, vertel hulle” veldtog. Die fokus is op opvoeding oor kankers wat vroue raak, wat borskanker, servikale kanker, kanker van die ovaria en kanker van die baarmoeder insluit.

Die ‘Vertel haar, vertel hulle’- veldtog se mikpunt is om vroue in te lig hoe om hulle liggame te leer ken en om hulle aan te moedig om gereeld siftingstoetse te ondergaan. Die doel van die veldtog is om vroue aan te moedig om hulself te vergewis van die waarskuwingstekens van kanker en wat om te doen om die risiko van kanker te verminder. Opvoeding oor kankers wat vroue raak, is van die uiterste belang om vroue onder andere toe te rus om die tekens en simptome van hierdie kankers te ken en te herken.

KANSA het meer as 180 feiteblaaie beskikbaar gestel wat handel oor die tekens, risiko’s, simptome en opsies vir behandeling van alle tipe kankers, wat besigtig kan word om meer inligting te bekom.

Afgesien van nie-melanoom velkanker is borskanker steeds die mees algemene kanker onder vroue van alle rasse en etniese groepe. Volgens die 2009 Nasionale Kankerregister het 1 uit 33 vroue in Suid-Afrika ‘n lewenslange risiko vir borskanker.

Die tweede mees algemene kanker onder vroue is servikale kanker met ‘n lewenslange risiko van 1 uit 42 vroue in Suid-Afrika.

Die voorkoms van kanker van die baarmoeder is 1 uit 160 vroue en 1 uit 460 vroue het ‘n lewenslange risiko vir kanker van die ovarium of eierstokke.

Lesang Moholobela, wie se ma gediagnoseer was met servikale kanker, het self ‘n skok opgedoen toe sy self amper ook met kanker gediagnoseer is en sy moedig alle vroue aan om hulle gereeld te laat toets. “In 2012 het ek self ‘n borsondersoek gedoen en ‘n knop in my bors gevoel. Gelukkig was dit nie borskanker nie, maar ek sê altyd vir mense dat jy “jou liggaam die beste ken”. Dit is glad nie taboe om aan jouself te raak en jou borste self te ondersoek nie. Doen gereeld elke maand self ‘n borsondersoek of gaan vir ‘n kliniese borsondersoek. Dit is van kardinale belang.” Vind meer inligting oor hoe om maandelikse self borsondersoeke te doen…

Nellie Snyman het in Oktober 2010 ‘n knop in haar bors tydens ‘n roetine-ondersoek gevoel. Sy is na ‘n spesialis verwys wat haar met borskanker gediagnoseer het. Chemoterapie en bestraling het gevolg. “Ek het my hare verloor, maar nie my sin vir humor nie. My vriende het my aangemoedig om groot oorringe te dra omdat ek hulle aan ‘n bekende sangeres herinner het. Ek het die uitdaging aanvaar om sonder my pruik by funksies op te daag. Niemand het dit verwag nie. Omdat ek ‘n kankeroorwinnaar is, werk ek vir KANSA as ‘n vrywilliger as deel van die CANSA Relay For Life programme en ek doen dit om bewustheid van die siekte te bevorder. ”

“My lewe met kanker was ‘n ongelooflike reis met hoogte- en laagtepunte inmekaar verweef. Ek het besef hoe verskriklik belangrik dit is om jou gesondheid op te pas en om gereeld die nodige siftingstoetse vir gesondheid te ondergaan. KANSA het my deurentyd ondersteun en was aan my sy tydens my behandeling wat sewe weke geduur het. Ek lewe elke dag met die hoop en vertroue dat ander kankeroorwinnaars dieselfde sal doen. ‘n Gesonde lewenstyl is van die uiterste belang,” sê Lucinda Carter, ‘n kankeroorwinnar van servikale kanker vir 10 jaar.

Verskeie siftingstoetse is beskikbaar vir vroue:

  • Ondersoek jou borste self maandeliks en gaan gereeld vir ‘n Papsmeer.
  • Gaan gereeld vir siftingstoetse (kliniese borsondersoeke), beskikbaar by 30 KANSA Sorgsentra landwyd:
  • Vroue met geen simptome nie behoort vanaf die ouderdom van 40 jaar elke jaar vir ‘n mammogram te gaan.
    SureTouch – ‘n nie-indringende toestel vir ‘n veilige borsondersoek (nie ‘n diagnostiese toetsmiddel nie) – beskikbaar by sekere KANSA Sorgsentra.
  • KANSA beskik ook oor verskeie Mobiele Gesondheidsklinieke wat siftingstoetse bied vir mense in gemeenskappe wat nie maklike toegang tot siftingstoetse het nie

Wat siftingstoetse vir servikale kanker aanbetref, is dit belangrik om gereeld vir ‘n Papsmeer te gaan. Dit kan abnormale selle in die serviks (mond van die baarmoeder) wat servikale kanker veroorsaak, opspoor. KANSA moedig alle vroue tussen die ouderdom van 18 – 25 jaar wat al seksueel aktief was en is, aan om elke 3 jaar, of 2 jaar na die eerste seksuele aktiwiteit (wat ook al later is) tot en met die ouderdom van 70 jaar gereeld vir Papsmere te gaan. Vergewis jouself van die Menslike Pappiloomvirus (MPV) entstof wat die risiko van servikale kanker verminder…

Besoek KANSA se webwerf vir meer inligting oor KANSA se veldtog vir Vroue Gesondheid of sluit by ons aan op Facebook / Twitter of Instagram

« BACK


Do you have a question?