Fundraising Events & Projects

Tree op teen Armoede – “#ActionAgainstPoverty” – op Mandela Dag Vanjaar

Tree op teen Armoede – “#ActionAgainstPoverty” – op Mandela Dag Vanjaar

English Media Release

28 June 2017 – Op Nelson Mandela Dag word daar ‘n beroep gedoen op individue, gemeenskappe en maatskappye om van die wêreld ‘n beter plek te maak. Nelson Mandela Dag word natuurlik gevier om die lewe en nalatenskap van Nelson Mandela te herdenk. KANSA vra vir een en almal om betrokke te raak en om saam te help om die wenslys van die 11 KANSA Sorgtuistes en verskeie KANSA TLC-Tuistes regoor die land te verwesenlik.

Gerda Strauss, KANSA se Hoof van Dienslewering, verduidelik: “Baie Suid-Afrikaners leef in armoede en vir hierdie mense om nog boonop met kanker gediagnoseer te word, kan vir kankerpasiënte ‘n uiters moeilike ondervinding en uitdaging wees. Een manier om hierdie las te verlig is om maatskappye aan te moedig om siek mense in nood te help en om versorgingspakkette of -pakkies aan ons Sorgtuistes te skenk. Kankerpasiënte wat behandeling ondergaan word in KANSA se Sorgtuistes gehuisves. Ouers wie se kinders met kanker gediagnoseer en behandel word, word dikwels ook in KANSA se TLC-Tuistes gehuisves en ondersteun met spesiale TLC-programme.

Strauss voeg by: “Ons het kos, toiletware en algemene verbruikersgoedere nodig om ons te help om kankerpasiënte te ondersteun en te versorg. Donasies van verenigings, die publiek en maatskappye help ons by KANSA om voort te gaan om kankerpasiënte en hulle gesinne wat dit so broodnodig het, te ondersteun en by te staan en om die las wat armoede teweegbring, te verlig.”

“As jy nie in staat is om ‘n versorgingpakket saam te stel nie, kan jy altyd ‘n donasie van R67 aan KANSA skenk om te help om ‘n kankerpasiënt te versorg of ten bate van KANSA se versorgingprogramme. Dit is veilig om ‘n donasie aanlyn op ons webwerf te maak of by jou naaste KANSA Sorgsentrum. Ons moedig jou aan om betrokke te raak op vanjaar se Nelson Mandela Dag en om ‘n verskil in die lewe van ‘n kankerpasiënt te maak,” sê Strauss.

Hoe KANSA ons 67 Minute Afstaan

KANSA gaan ook 67 minute afstaan om te sorg vir mense wat hulle alles gee om kankerpasiënte wat behandeling ondergaan en mense wat deur kanker geraak word, te ondersteun. Werknemers van KANSA sal onkologie-eenhede in hospitale en fasiliteite waar kankerpasiënte behandel word, besoek as bewys van hul ondersteuning en waardering van verpleegpersoneel en dokters wat daagliks met kankerpasiënte betrokke is.

Strauss voeg by: “Ons weet wat dit van jou verg om elke dag kankerpasiënte te ondersteun en te verpleeg. Dis nie maklike werk nie. Ons glo in die versorging van mense wat siek mense versorg want dit is presies wat hierdie mediese personeel is – mense wat kankerpasiënte en kankeroorwinnaars onbaatsugtig versorg, ondersteun, help en verpleeg. Ons as KANSA wil graag hierdie mense bedank vir wat hulle doen om mense te help wat op reis is met ‘n siekte soos kanker.”

Personeel van ons 30 KANSA Sorgsentra regoor die land sal 67 minute van hul dag afstaan om op 18 Julie hul naaste sentrum waar kankerbehandeling aangebied word, te besoek.

Vind kontakbesonderhede van jou naaste KANSA Sorgtuiste om reëlings te tref vir goedere wat aan KANSA geskenk word of om ‘n afspraak te maak om kankerpasiënte te besoek.

Meer Oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae

Vir meer inligting besoek www.cansa.org.za of kontak KANSA tolvry by 0800 22 66 22 of of stuur ‘n epos na info@cansa.org.za – volg KANSA op Twitter, Facebook, en Instagram.


« BACK


Do you have a question?