Men's Health

Staan Jou Man hierdie November!

Staan Jou Man hierdie November!

English Media Release

31 Oktober 2017 – Gedurende die maand November fokus KANSA op die Bewusmaking van Mansgesondheid. Die kollig val veral op ‘Die Groot Vyf’ mees algemene kankers wat mans in Suid-Afrika raak. #MensHealth

‘n Gebalanseerde lewenstyl en siftingstoetse is van die allergrootste belang om die risiko van kanker te verlaag en om te keer dat die persoon weer met dieselfde siekte gediagnoseer word. Tans word een uit elke sewe mans in Suid-Afrika gedurende hul leeftyd met kanker gediagnoseer.

Die vyf mees algemene kankers wat Suid-Afrikaanse mans teister, is prostaat-, kolorektale-, long-, Kaposi-sarkoom (‘n tipe velkanker), en blaaskanker. Lees meer…

Hoewel sommige risikofaktore soos ‘n familiegeskiedenis van die siekte, ouderdom en ras nie beheer kan word nie, kan ander faktore geminimaliseer word deur ‘n gesonde leefwyse. So ‘n leefwyse sluit onder andere in: ‘n gesonde en heilsame eetplan en dieet, die handhawing van ‘n gesonde liggaamsgewig, die vermyding van rook en inname van alkohol asook om aktief te wees deur gereelde oefening te doen. Lees meer omtrent ‘n gebalanseerde leefstyl…

Prostaatkanker, die nommer een kanker, wat 1 uit 18 mans in ons land raak, ontwikkel dikwels sonder enige simptome gedurende die vroeë fases van die siekte. Wanneer die kanker egter in ‘n gevorderde fase is, sal simptome soos die volgende heel waarskynlik ondervind word – ongemak en probleme om te urineer, urine wat lek, bloed in die urine en pyn in die bene. As prostaatkanker vroeg genoeg gediagnoseer en behandel word, is die prognose van die siekte dikwels goed.

KANSA se aanbeveling is dat mans gereelde siftingstoetse vanaf die ouderdom van 40 jaar en ouer moet ondergaan – veral as daar enige familiegeskiedenis van kanker is. Siftingstoetse word gedoen deur middel van ‘n bloedtoets wat Prostaat Spesifieke Antigeen (PSA) toets genoem word en wat enige abnormaliteite van die prostaat opspoor. (Beskikbaar by alle KANSA SorgSentrums).

Jacob Skosana, ‘n kankeroorwinnaar van prostaatkanker sê: “Ek erken eerlik dat ek nooit op my eie ‘n mediese dokter sou raadpleeg om te vra om vir kanker getoets te word nie. Ek het nooit eers vermoed dat ek dalk kanker kon gehad het nie. Nadat die resultaat van ‘n bloedtoets wat ek tydens ‘n KANSA Gesondheidsdag ondergaan het, bepaal het dat my PSA- vlakke hoog was, was ek dadelik verwys na ‘n spesialis wat bevestig het dat ek prostaatkanker gehad het. Ek is eindeloos dankbaar dat KANSA die geleentheid en die gesondheidsdag en –program aangebied het anders het ek dalk te laat uitgevind dat ek prostaatkanker gehad het.”

Op die oomblik is KANSA besig met drie navorsingsprojekte wat gelei word deur Dr Karl-Heinz Storbeck, Dr Serafin en Prof Bornman. Die navorsing ondersoek kliniese merkers van prostaatkanker wat kan dien as indikators van ‘n spesifieke biologiese toestand. Hierdie navorsing kan help om prostaatkanker vroeër te identifiseer om sodoende mans se risiko vir prostaatkanker te verminder. #CANSAresearch

Kolorektale kanker (kanker van die kolon of rektum) is die tweede mees algemene kanker en dit word beraam dat 1 uit 75  mans in Suid-Afrika dit kan ontwikkel. Gedurende die vroeë fases van die siekte is simptome nie teenwoordig nie, maar wanneer simptome wel voorkom, veroorsaak die siekte ‘n verandering van dermgewoontes, rektale bloeding, maagpyn, swakheid en gewigsverlies.

KANSA moedig die vroeë opsporing van kanker aan en doen ‘n beroep op die publiek om siftingstoetse deur middel van ‘n kolonoskopie vanaf die ouderdom van 50 jaar te ondergaan. Hierdie toets behoort herhaal te word na elke 10 jaar afhangend van die individu se risikofaktore. Fekale Okkult bloedtoetse word aangebied by meeste KANSA Sorgsentrums. Hierdie toetse ondersoek mikroskopiese bloeding in ontlasting, wat ‘n teken kan wees van ‘n groeisel, inflammasie of bloeding in die spysverteringstelsel.

Die derde mees algemene kanker by mans is longkanker wat gediagnoseer word by 1 uit elke 76 mans in Suid-Afrika. Simptome van longkanker sluit die volgende in: kortasem, aanhoudende hoes, ‘n verandering van speeksel of slym, borspyn, luide asemhaling, heesheid en die hoes van bloed. Rook is die mees algemene voorkombare oorsaak van longkanker en die beste manier om die siekte te verhoed, is om nie tabakprodukte te gebruik nie, om dadelik op te hou rook en om tweedehandse rook te vermy. #NoTobacco

Die mees algemene VIGS-verwante kanker wêreldwyd is Kaposi Sarkoom (KS), wat die vierde mees algemene kanker onder mans in Suid-Afrika is. Ongeveer 1 uit 315 Suid-Afrikaanse mans word deur KS geaffekteer. Simptome van die kanker is kolle van abnormale weefsel wat onder die vel, in die voering van die mond, neus, keel en ander organe groei. Ongeveer ‘n derde van mense met klassieke KS ontwikkel ander kanker wat dodelik kan wees.

Die vyfde mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse mans is blaaskanker wat 1 uit 148 mans affekteer. Die grootste risikofaktor wat vermy kan word, is rook, wat die kans om met blaaskanker gediagnoseer te word, verdubbel. Geen siftingstoets is beskikbaar nie, maar bloed in die urine, ‘n verandering van die kleur van urine, die behoefte om meer gereeld te urineer en ‘n brandpyn wanneer ‘n persoon urineer, is ‘n paar van die simptome van blaaskanker.

Testikulêre kanker is algemeen onder jong Suid-Afrikaanse mans tussen die ouderdomme van 15 en 39 jaar en 1 uit 2 084 mans word deur hierdie kanker geaffekteer. Vroeë opsporing verbeter die oorlewingsyfer en die simptome kom voor in beide die testikels en skrotum en sluit knoppe, swelling en pyn in. Maandelikse selfondersoek van die testikels is ‘n maklike en effektiewe manier vir mans om ongewone en abnormale tekens en simptome op te spoor.

“Testi-monials” is ‘n veldtog wat vir KANSA geskep is deur FCB Cape Town. Die veldtog is daarop ingestel om die ongemak van gesprekvoering oor testikulêre kanker uit te wis. Die doel van die veldtog is ook om mans bewus te maak van die belangrikheid om oor testikels te praat en om selfondersoeke van testikels te doen. Die veldtog bied aan mans die geleentheid om na “testi-monials” oor kanker te luister en om so uit te vind hoe hulle persoonlik geaffekteer kan word. Raad oor selfondersoeke en hulp om tekens en simptome op te spoor, word ook ontleed. Besoek die Testi-monials webblad vir meer inligting.

KANSA se ‘MANVan’- inisiatief samel ook fondse in deur middel van die Hollard Daredevil veldtog. Hierdie mobiele gesondheidkliniek bied gratis gesondheidstoetse en ondersteuningprogramme aan en verskerp bewustheid oor kankers wat mans raak.

Meer Oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

Vir meer inligting besoek www.cansa.org.za of kontak KANSA tolvry by 0800 22 66 22 of of stuur ‘n epos na info@cansa.org.za – volg KANSA op Twitter, Facebook, en Instagram. KANSA bied veeltalige ondersteuning aan op  Whatsapp: 0721979305 vir Engels en Afrikaans en 0718673530 vir Xhosa, Zulu, Sotho and Siswati.


« BACK


Do you have a question?