Media Releases & News

Rook Beroof Jou Gesondheid en Jou Beursie

Rook Beroof Jou Gesondheid en Jou Beursie

English Press Release

25 April 2017 – Tabakgebruik is ‘n bedreiging vir enige persoon, ongeag geslags-, ouderdom-, ras-, kulturele of opvoedkundige agtergrond, wat meer as 18 soorte kanker veroorsaak en verantwoordelik is vir meer as 20% van die kankersterftes wêreldwyd. KANSA pleit vir die stop van die gebruik van enige en alle tabakprodukte.

Tabak kan in baie vorme gevind word en alle tabakgebruik is skadelik. “Mense dink net aan sigaret rook wanneer mens van tabak praat, maar dis meer as net dit. Hulle moet bewus wees dat hubbly-bubbly en e-sigarette net so skadelik is vir jou gesondheid en die gesondheid van ander rondom jou. Dis nie net die roker wat ‘n verhoogde sterfterisiko het nie, maar ook die mense wat blootgestel word aan tweedehandse rook,” sê KANSA Gesondheidspesialis, Prof Michael Herbst.

Tabakprodukte Duur

Boonop die gesondheidsimplikasies, raak tabakprodukte al hoe duurder en veroorsaak ‘n groot negatiewe impak op die ekonomie.

“Die tabak industrie produseer en bemark produkte wat voortydig miljoene mense doodmaak, huishoudings van finansies wat vir kos en onderwys gebruik kan word, beroof en enorme gesondheidsorgkoste op gesinne, gemeenskappe en lande oplê,” Dr Oleg Chestnov, Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) se Assistent Direkteur-Generaal vir Nie-Oordraagbare Siektes (NCD’s) en Geestesgesondheid.

“Daar is soveel meer wat jy met ‘n gemiddelde R30 per dag kan doen, in plaas daarvan om ‘n pakkie sigarette te koop. Het jy al daaraan gedink? Om een pakkie sigarette ‘n dag op te gee sal jou amper R1000 per maand? bespaar, wat op soveel beter maniere spandeer kan word, in plaas daarvan om jou gesondheid en die gesondheid van diè rondom jou, te belemmer. Die finansiële impak is enorm,” voeg Herbst by.

Hookah, of hubbly-bubbly gebruik is veral kommerwekkend onder die jeug. Die tabak is niks minder giftig in ‘n hookah pyp nie en die water in ‘n hookah filtreer nie die giftige chemikalieë uit die tabakrook nie. Hookah-rokers kan eintlik meer tabakrook inasem as sigaretrokers, omdat hulle groot volume rook in ‘n rooksessie inasem. In Suid-Afrika val hubbly en hubbly-verwante tabakprodukte onder die definisie van ‘tabakproduk’, soos aangedui in die Wysigingswet op Tabakproduktebeheer (2007). Dit beteken dat die gebruik en verkoop daarvan moet voldoen aan die regulasies wat van toepassing is op ‘n tabakproduk in die land. Dit sluit in die verbod op die verkoop van hookahs en hul produkte aan enigiemand onder die ouderdom van 18.

Elektroniese sigarette en soortgelyke toestelle word gereeld as hulpmiddels bemark om op te hou rook, of as gesonder alternatiewe vir tabak. Dit is nie bewys nie en e-sigarette is nie ‘n beter alternatief as sigarette nie. Hulle bevat steeds skadelike chemikalieë en dit word eerder aanbeveel om op te hou rook deur bewese behandelings. KANSA het ‘n e-Kick Butt program wat help om op te hou rook (www.ekickbutt.org.za),” sê Herbst.

Ken die Wet – Jy het die Reg tot ’n Rookvrye Omgewing

KANSA het ‘n belangrike rol gespeel in die bydrae tot tabakbeheerwetgewing in Suid-Afrika. Elke persoon moet in staat wees om tabak-rookvrye lug in te asem. Rookvrye wette beskerm die gesondheid van nie-rokers. Meld oortreders aan…

  • Wetgewing is baie duidelik oor waar mense mag rook en waar rook verbode is
  • Dit is jou reg om te kla wanneer iemand in jou teenwoordigheid rook
  • Dit is ook jou reg om remediërende stappe te neem as iemand rook in enige plek waar rook verbode is
  • Volwassenes mag nie in ‘n motor rook as ‘n passasier onder 12 jaar teenwoordig is nie
  • Rook word nie toegelaat in ‘n perseel (insluitende privaat huise) wat gebruik word vir kommersiële kinderaktiwiteite, soos kleuterskole, ens.
  • Geen persoon onder 18 mag toegelaat word tot ‘n aangewese rookarea nie
  • Geen rook in gedeeltelik afgeslote openbare plekke soos balkonne, bedekte stoepe, paaie, parkeerareas, ens.
  • Die boete vir die eienaar van ‘n restaurant, kroeg en werksplek wat die rookwet verbreek, is hoogstens R50 000 en vir die individuele roker R500
  • Die tabak industrie kan nie meer ‘virale’ bemarking soos partytjies gebruik om aan jongmense te bemark nie
  • Die verkoop van tabakprodukte aan en deur persone onder die ouderdom van 18 jaar is verbode
  • Sigaretverkoopmasjiene wat tabakprodukte verkoop, kan nie gebruik word om ander produkte soos skyfies, sjokolade, ens. te verkoop nie.

Navrae

Vir meer inligting, besoek www.cansa.org.za of skakel KANSA tolvry 0800 22 66 22 of epos: info@cansa.org.za


« BACK


Do you have a question?