Media Releases & News

Pienk Bome vir Pauline & KANSA Staan Saam om Kankergemeenskappe by te Staan

Pienk Bome vir Pauline & KANSA Staan Saam om Kankergemeenskappe by te Staan

English Press Release…

Julie 2015 – Die geregistreerde kankerorganisasie ‘Pienk Bome vir Pauline’ het hulle 2015 projek afgeskop met die aankondiging van die ‘Pienk Bome vir Pauline’ Wen ‘n Motor kompetisie.

Slegs ‘n week later en nog ‘n opwindende aankondiging is deur die organisasie se Besturende Direkteur, Adri van Nieuwenhuizen, gemaak:

KANSA gaan in samewerking met ‘Pienk Bome vir Pauline’ verseker dat hierdie unieke projek net nog hoër hoogtes bereik! Dit beteken natuurlik dat nog meer hande en voete vir weke aaneen gaan werk om Suid-Afrika in pienk toe te draai, ten einde fondse in te samel om kankergemeenskappe by te staan.

Pink Trees 21 Sep 2014_M du Buson

Bome soos toegedraai in Middelburg Mpumalanga deur Pienk Bome vir Pauline Middelburg. Fotograaf Mariette du Buson

Doel van ‘Pienk Bome vir Pauline’

Die doel van Pienk Bome vir Pauline is bewusmaking en om fondse in te samel vir alle soorte kanker om die lewens van persone en hulle families wat deur kanker geraak word te verbeter.

Gedurende die 2014 projek is bykans 65km materiaal verkoop in 101 dorpe. Die beraamde populasie van hierdie dorpe is 3 720 342 waarvan meer as 75% benadeelde persone is.

Spesifieke Kankergemeenskappe sal Baatvind

Die grootste beloning van die projek is die wete dat fondse wat in ‘n dorp ingesamel is, aan die kankergemeenskap van daardie spesifieke dorp geallokeer word.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is Middelburg, Mpumalanga, waar 7.2km materiaal in 2014 verkoop is. Die ‘Pienk Bome vir Pauline’ span het blikke Ensure, geskenkbewyse vir kos, brandstof vir pasiënte se reiskoste, mediese voorraad geskenk en ook 2 suurstoftenks gehuur en bygedra tot die koste van ambulansvervoer. Hierdie is bloot een voorbeeld van vele, waar kankergemeenskappe bevoordeel is deur fondse wat ingesamel word.

Meer Kankergemeenskappe Bereik deur KANSA se Samewerking

Die feit dat KANSA in assosiasie met ‘Pienk Bome vir Pauline’ die projek gaan dryf, veroorsaak groot opgewondenheid by almal wat betrokke is by die projek.

KANSA sal die projek uitrol in dorpe waar daar geen bestaande ‘Pienk Bome vir Pauline’ komitees is nie, en in dorpe waar daar wel komitees is, sal KANSA hulle gewig ingooi en help waar moontlik.

KANSA het meer as 300 personeel in diens, 5 000 vrywilligers en meer as 30 KANSA Sorgsentrums landwyd en is dus goed geposisioneer om die kankergemeenskappe van Suid-Afrika te dien. KANSA bied aan alle gemeenskappe ‘n boodskap van hoop en ‘n geleentheid om betrokke te raak by die stryd teen kanker, deur toegang tot inligting en onderrig om sodoende die risiko van kanker te help verminder. Die doel en visie van KANSA onderskryf dié van ‘Pienk Bome vir Pauline’ en die kankergemeenskappe van Suid-Afrika sal sonder twyfel baat by hierdie samewerkingsooreenkoms.

H.E. Luccock het gesê “No one can whistle a symphony. It takes a whole orchestra to play it.” KANSA in assosiasie met ‘Pienk Bome vir Pauline’ sal ongetwyfeld ‘n asembenewende simfonie by wyse van die ‘Pienk Bome vir Pauline’ 2015 projek skep. Die kristalhelder musiek sal kankergemeenskappe regoor Suid-Afrika met die onmiskenbare boodskap van hoop, liefde en lewe bereik.

Navrae ‘Pienk Bome vir Pauline’

« BACK


Do you have a question?