Women's Health

Om Ingelig te wees, is Helfte van die Stryd Gewonne

Om Ingelig te wees, is Helfte van die Stryd Gewonne

English Press Release

27 September 2016: Vrouegesondheid en die tipe kankers wat algemeen onder vroue voorkom, is die tema van KANSA se Vrouegesondheidsveldtog wat gedurende Oktober in die kollig kom. Die boodskap is dat vroue seker moet maak dat hulle goed genoeg ingelig is sodat hulle vroeë waarskuwingstekens kan herken en weet hoe om hul risiko vir kanker te verminder.

“Die fokus van ons veldtog oor Vrouegesondheid is meestal op borskanker en servikale kankers gerig,” sê KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte, Elize Joubert. “Hierdie kankers is die algemeenste kankers onder Suid-Afrikaanse vroue, met servikale kanker wat die grootste oorsaak is van sterftes onder vroue in ontwikkelende lande.”

Sien die Tekens

Borskanker

Joubert voeg by: “Daar is ‘n toename in die voorkoms van borskanker onder Suid-Afrikaanse vroue. ‘n Vrou se lewenslange risiko om borskanker te ontwikkel, is een uit 29 en borskanker is die mees algemene kanker onder vroue van alle rasse en etniese groepe. Met hierdie onrusbarende statistieke van die hoë risiko van borskanker onder vroue, doen ons ‘n ernstige beroep op alle vroue om gereeld siftingstoetse te ondergaan en om alles in hul vermoë te doen om hulle risiko vir borskanker te verminder.”

Vroue kan hul naaste en plaaslike KANSA Sorgsentrum kontak om reëlings te tref vir ‘n Kliniese Borsondersoek of as hulle reeds met borskanker gediagnoseer is, kan KANSA personeel pasiënte help om deur die openbare gesondheidsorg hulp te kry wat hulle so nodig het. Die mense wat vir KANSA werk, kan pasiënte en hul geliefdes ook help met versorging en ondersteuning. Vroue kan ook hul naaste SorgSentrum vra dat KANSA se Mobiele Gesondheidskliniek hulle gemeenskap besoek.

RSSA & BISSA Afslag op Mammogram & Bors MRI

Ter ondersteuning van die veldtog oor die bewusmaking van borskanker gedurende Oktober, bied alle deelnemende lede van die Radiologiese Vereniging van Suid-Afrika, (RSSA) en die Beeldende Vereniging van SA (BISSA) ‘n 10% of meer afslag op ‘n mammogram en bors MRI, wat nie deur die mediese skemas betaal word nie. Die aanbod geld vir Oktober en die eerste helfte van November 2016. Kyk na die lys van deelnemende lede of kontak die RSSA op 011 794 4395, epos:radsoc@iafrica.com of besoek www.rssa.co.za

clipboard01

Servikale Kanker:

Van al die ginekologiese kankers kan slegs servikale kanker met ‘n siftingstoets opgespoor word. Die Papsmeer kan help om servikale kanker vroeg genoeg op te spoor sodat die behandeling van die kanker vroegtydig kan begin en daarom meer doeltreffend kan wees. Omdat daar nie ‘n eenvoudige en betroubare metode van sifting vir ander kankers onder vroue is nie, is dit veral belangrik om te let op waarskuwingstekens en maniere oor hoe om jou risiko vir kanker te verminder.

Kennis is Mag

lindiwe-ntuli-tloubatla

Lindiwe Ntuli-Tloubatla

Dit was Lindiwe Ntuli-Tloubatla se kennis van kanker en hoe om die stryd teen kanker te oorwin wat haar gehelp het om deur haar trauma van ‘n spesifieke aggressiewe vorm van borskanker te kom. Lindiwe is van Nelspruit en is ‘n geslag- en menseregte aktivis, wat ook eerstehandse ondervinding van die siekte gehad het toe verskeie familielede en haar suster met kanker gediagnoseer was en oorwinnaars van die siekte geword het. Lindiwe het haar eie stryd teen kanker ‘n paar jaar tevore oorwin.

“Aanvanklik was die prognose so erg, dat ek gehoor het dat ek my sake in orde moet kry,” sê sy. Maar Lindiwe het volgehou en ‘n tweede opinie bekom. Sy het met intensiewe behandeling begin wat syself as “wreed” beskryf. “Tydens die behandeling en my periode van herstel, het ek seker gemaak dat ek myself op hoogte van sake hou. Ek wou weet wat die siekte is en hoe die behandeling dit gaan beveg. Ek was baie gelukkig omdat ek omring was met mense wat my gehelp het met my stryd teen kanker.”

Een van daardie mense was Suster Rhona van KANSA Sorgsentrum in Nelspruit. “Sy was my lewenslyn, my anker, ” sê Lindiwe. “Sy het my aangeraai en gehelp om my mobiliteit te herwin en vir my gewys watter oefeninge ek gereeld moes doen. Sy het my voorgestel aan die konsep van ‘n borsprostese. Sonder haar sou ek niks daarvan geweet het nie. ”

Lindiwe was so beïndruk deur die diens wat sy van Suster Rhona en KANSA gekry het dat sy vandag as vrywilliger vir KANSA werk om te help om fondse vir die Vereniging in te samel.

Verminderde Risiko

Die oorhoofse doel van KANSA se veldtog is om die gesondheid en welsyn van vroue te verbeter. Om dit te doen, moedig KANSA vroue aan om ingeligte besluite te maak oor hoe hulle hul risiko van kanker kan verminder. KANSA se veldtog is daarop gemik om kennis en inligting beskikbaar te stel vir vroue – inligting wat mense in staat stel om keuses te maak oor hoe om ‘n gesonde leefwyse te beoefen. KANSA moedig ook siftingstoetse en vroeë opsporing aan.

Gedurende Oktober sal KANSA inligting beskikbaar stel deur die media, praatjies oor gesondheid en ‘n gesonde leefwyse, projekte om fondse in te samel, gebeure rondom kanker en kankeroorwinnaars, soos die borskanker stap-veldtogte. Siftingstoetse by KANSA SorgKlinieke en Mobiele Gesondheideenhede sal ook aangebied word.


« BACK


Do you have a question?