Fundraising Events & Projects

Movember Moedig Mans aan om hul eie Lewenservaring te Verbeter deur Hulself te verbind tot Beter Mansgesondheid

Movember Moedig Mans aan om hul eie Lewenservaring te Verbeter deur Hulself te verbind tot Beter Mansgesondheid

English Press Release

Die Movember Stigting se stryd is vir mans om gelukkiger, gesonder en langer te lewe deur navorsing en oorlewingsprogramme wat handel oor spesifieke siektes wat mans bedreig. Elke jaar in November is Movember verantwoordelik vir die groei van snorre op miljoene mansgesigte regoor die wêreld. Dit is ook die tyd van die jaar wanneer fondse in Suid-Afrika ingesamel word en bewustheid geskep word vir gesondheidkwessies wat mans raak – veral prostaat- en testikulêrekanker, asook mans se geestesgesondheid en fisiese onaktiwiteit.

Movember 2015

Wêreldwyd is daar nogsteeds ‘n stigma gekoppel aan siektes wat mans raak en dikwels praat mans nie maklik oor kwessies en simptome wat hulle ervaar en pla nie. Mans is ook geneig om weg te skram van bekommernisse wat hulle mag beleef en dit bemoeilik dikwels die vroeë opsporing van siektes en die uiteindelike lewensverwagting van mans. Die Movember Stigting se doel is om ‘n wêreld te skep waar mans nie hoef te ly of te swig voor siektes wat voorkombaar is nie en siektes wat hanteerbaar is as dit vroeg genoeg opgespoor en gediagnoseer word.

Tema ‘Geskep deur Ondervinding’

“Die tema van vanjaar se Movember-veldtog is Geskep deur Ondervinding en die onderliggende boodskap is: as jy kies om gesonde lewenskeuses te maak, ‘n gesonde lewenswyse te volg, aandag te skenk aan jou gesondheid en waarskuwingstekens, kan jy help om vir jouself ‘n voordelige toekoms te skep, ” sê Garron Gsell, Hoof Uitvoerende Beampte en stigter van die Men’s Foundation.

Movember moedig mans aan om ‘Mo Bros’ (soos ondersteuners van die veldtog goedgunstiglik bekendstaan) te word deur aan te sluit op die webwerf: www.movember.com. Die reëls vereis elke Mo Bro om op 1 November die veldtog af te skop met ‘n skoon geskeerde gesig en om vir die hele maand van November ‘n snor te groei en in toom te hou om sodoende ‘n effektiewe advertensiebord te word wat vir die 30 dae van Movember rondloop en praat. Mans wat snorre groei vir die doel, moedig ander mans om die veldtog te ondersteun. Mo Bros moedig ander mans aan om prontuit private en publieke gesprekke te voer oor mans se gesondheidsprobleme wat dikwels geïgnoreer word.

Mans kan die veldtog vanjaar ondersteun in samewerking met die vroue in hulle lewe of ‘Mo Sistas’, soos hulle bekendstaan. Vroue wat wil deelneem, kan ook aanteken op movember.com, Movember is die dryfkrag wat die boodskap uitdra dat vroeë opsporing die sleutel is tot ‘n gesonde lewe: jaarlikse mediese ondersoeke is van kardinale belang en ‘n maandelikse testikulêre selfondersoek is nodig vir jou om jou liggaam te leer ken en om enige veranderinge in jou liggaam te monitor.

Beweeg hierdie Movember

Grow Give Move postVanjaar het die Movember Stigting ‘n bykomende aspek tot die maandlange veldtog toegevoeg: die opsie om aan te teken om te BEWEEG. Wanneer jy op die Movember wedwerf aanteken, kan Mo Bros en Mo Sistas ‘n verbintenis sluit om vir die 30 dae van Movember te BEWEEG.

Navorsing het bewys dat as jy meer tyd in jou daaglikse roetine inruim vir meer fisiese oefening, kan dit jou gesondheid verbeter. Hoe meer oefening jy doen, hoe beter gaan jy voel en hoe meer energie gaan jy hê en so kan jy moontlik jou lewe verleng.

Hierdie verbintenis om te BEWEEG kan een of meer van die volgende aktiwiteite insluit: gaan loop elke dag, klim trappe en vermy hysbakke of roltrappe, swem, fietsry of durf die see aan op ‘n branderplank…enigiets wat jou hart vinniger sal laat klop.

“Die byvoeging van selfs die mees geringe daaglikse fisiese aktiwiteit tot jou lewe is ‘n belegging vir jou gesondheid en dit vergroot jou kans om ‘n gelukkiger, gesonder en langer lewe te geniet, ” sê Gsell. “Die Movember Stigting glo dit is onafwendbaar dat jy ouer sal word, maar om jonk van liggaam en gees te wees, is opsioneel. Ons wil mans aanmoedig om ter wille van hulle welstand meer aktief te wees.”

Movember Vennote

Bykomend tot die bewusmaking en opvoeding wat die Movember veldtog genereer, word die fondse wat deur Mo Bros’ & Mo Sistas’ ingesamel word, gebruik vir kankeroorwinnaars en mense wat ander siektes oorleef, asook vir programme oor navorsing. Die doel van hierdie programme is om mans die beste keuses te bied en om opsies vir behandeling beskikbaar te stel. Die Movember Stigting het wêreldwyd van die beste en mees bekwaamste medici soos uroloë, onkoloë, seksuoloë en algemene gesondheidswerkers en praktisyns saamgesnoer om saam ‘n verskeidenheid programme te formuleer – programme wat die gesondheid van mans toenemend verander en verbeter.

In Suid-Afrika word Movember geadministreer deur die Men’s Foundation wat die lisensie-ooreenkoms van die veldtog in ons land besit. Die Stigting se vennote vir gesondheid is die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), die Prostaatkanker Stigting en die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep (SADAG) wat almal saamspan om plaaslike programme vir mans in ons land te formuleer. Hierdie programme is tans in die beplanningsfase en die doel van die programme is om aan mans die ondersteuning te bied wat hulle nodig het en om die las van die regering se gesondheidsisteem te verlig.

“Ons weet dat geestesgesondheid ‘n integrale deel van algehele gesondheid is – daar is inderdaad nie sprake van gesondheid sonder geestesgesondheid nie. Deur middel van ons vennootskap met SADAG vanjaar, is ons in staat om ons uitreik uit te brei om ook manlike geestesgesondheid aan te spreek en te ondersteun. Manlike geestesgesondheid word al vir etlike jare wêreldwyd ondersoek, ” sê Gsell. “Wêreldwyd is selfmoord die rede vir die meeste sterftes van mans tussen die ouderdomme van 20 tot 39 en 75% van alle slagoffers van selfmoord is mans. Ons hoop om die mite dat ‘n ‘sterk’ man die enigste manier is om ‘manlik’ te wees, nek om te draai. Ons uitdaging is om te bewys dat mans wat praat en emosies wys, nie ‘swakkelinge’ is nie.”

Laat Jou Snor Geld

Om ons te help om bewustheid te skep en om die boodskap van: “Verander die Gesig van Mansgesondheid” uit te dra, teken aan om jou snor vir Movember te laat groei of te BEWEEG (of doen sommer beide). Jy kan aanteken as ‘n individu, ‘n groep of jy kan by ‘n groep aansluit. Jy kan ook die mans in jou maatskappy en werksplek aanmoedig om deel te neem aan die netwerk uitdaging. En moenie vergeet om jou Movember met ‘n skoon geskeerde gesig op 1 November te begin nie! Maak seker jy spog met die mooiste, beste of grootste snor gedurende die maand van November.

Laat jouself ondersoek, ken jou getalle, teken aan, groei, gee, beweeg – en sluit aan by ons. Saam kan ons Die Gesig van Mansgesondheid Verander.

Vir meer inligting of informasie oor hoe om aan te teken as ‘n Mo Bro of Mo Sista, besoek www.movember.com of laai die Movember app af op jou selfoon of tablet. Volg Movember op sosiale media: @MovemberRSA op Twitter of Facebook MovemberSouthAfrica.

Meer Oor Movember

Movember is ‘n jaarlikse veldtog in 21 lande wêreldwyd. Die doel van die veldtog is “Verander die Gesig van Mansgesondheid”. Movember het in 2003 in Australië begin.

Met die Ondersteuning van hulle Mo Sistas begin Mo Bros die maand van November met ‘n skoon geskeerde gesig en vir die res van November (Movember) maak mans seker dat hulle snorre mooi genoeg is sodat hulle advertensieborde vir mansgesondheid word wat loop en praat. Fondse word tydens Movember ingesamel vir kwessies en siektes wat mans teister en dikwels geïgnoreer word.

Mo Bros soek befondsing vir die snorre wat hulle ‘kweek’. Aan die einde van die maand word daar feesgevier en Mo Bros is gashere van hul eie en onderskeie Movember partytjies of hulle is gaste van een van Movember se Gala Partés.

Individue, groepe, en korporatiewe instansies word aangemoedig om te registreer by www.movember.com. Registrasies begin op 15 September 2015 en Movember skop af op 1 November met skoon geskeerde gesigte. Sluit aan en deel in die pret of volg die veldtog op Facebook en Twitter.

« BACK


Do you have a question?