Media Releases & News

Leer Ken die ‘Groot Vyf’ wat Suid-Afrikaanse Vroue Bedreig

Leer Ken die ‘Groot Vyf’ wat Suid-Afrikaanse Vroue Bedreig

English Press Release

1 Oktober 2017 – Die verband tussen die Groot 5 en Suid-Afrikaanse vroue het niks te doen met ons land se uitnemende en pragtige natuurlewe nie, maar eerder met kanker, die siekte wat Suid-Afrikaanse vroue se lewens verwoes.

Gedurende Oktober val KANSA se soeklig op die bewusmaking van vroue gesondheid. Die klem word veral gelê op die vyf mees algemene soorte kankers wat sonder enige diskriminasie by vroue in Suid-Afrika gediagnoseer word: bors-, servikale, kolon-, baarmoeder- en longkanker.

Goeie gesondheidsorg wat vir almal toeganklik is kan ‘n bydraende faktor wees om die sterftesyfer van kanker te verlaag of om die uitkoms van die siekte te verbeter. KANSA veg ook verbete om mense bewus te maak van kanker en om kennis te verskaf aangaande kanker in ‘n poging om die risiko van kanker te verlaag en om die diagnose, beheer en behandeling van kanker in ons land te versnel en te verbeter.

Elize Joubert, KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte sê: “Vroeë opsporing en diagnose verminder die erns van die siekte en die sterftesyfer. Navorsing het bewys dat ‘n gereelde selfondersoek van ‘n vrou se borste ‘n belangrike rol speel in die opsporing van borskanker. Dit is baie beter as om toevallig ‘n klont in die bors te ontdek.”

Beide bors- en servikale kanker is geïdentifiseer as ‘n nasionale prioriteit omdat die omvang van die twee kankers toenemend voorkom.

Die Groot 5 Kankers

Ongeveer 19.4 miljoen vroue van 15 jaar en ouer se risiko om met borskanker gediagnoseer te word, is hoog – borskanker is die kanker wat die mees algemeen onder vrouens in Suid-Afrika voorkom. In 2013 was borskanker en kanker van vroulike geslagsdele verantwoordelik vir van 0.7% en 1% van alle sterftes in Suid-Afrika.¹

¹Vorobiof D, Sitas F, Vorobiof G. Breast cancer incidence in South Africa. Journal of Clinical Oncology 2001 (September 15 Supplement); Vol 19, No. 18s: 125s -127s

“Ons moedig alle vrouens aan om gereeld elke maand selfondersoeke van hul borste te doen. KANSA beveel ‘n jaarlikse mammogram aan vanaf ouderdom 40 vir doeleindes van nie-simptomatiese sifting. Vroue met ouderdom 55 en ouer kan hul patroon verander na ‘n mammogram elke twee jaar – of moet die keuse gegun word of hul wil voortgaan met ‘n jaarlikse mammogram. Dra kennis van hoe jou borste voel en lyk en bespreek enige verandering wat jy in jou borste ondervind of waarneem met jou gesondheidpraktisyn. Neem kennis van die waarskuwingstekens en simptome,” voeg Joubert by.

Die ‘Radiological Society of South Africa’ (RSSA) bied mammografie teen verlaagde fooie aan gedurende Oktober by RSSA-geaffilieërde mammografie klinieke deur die land.

Die tweede mees algemene kanker onder vrouens in Suid-Afrika is servikale kanker wat veroorsaak word deur die Menslike Papillomavirus (HPV). KANSA beveel sterk aan dat alle vroue wat seksueel aktief is, gereeld vir Papsmere moet gaan – dit is vroue tussen die ouderdomme van 18 en 20 jaar en vroue moet daarmee voortgaan tot en met die ouderdom van 70 jaar. As die individu twee normale Papsmere gedurende die laaste vyf jaar voor die ouderdom van 70 gehad het, kan dit gestaak word. ‘n Papsmeer is ‘n ongemaklike, maar pynlose toets. ‘n Papsmeer spoor nie net abnormale selle in die serviks op en maak ‘n vroeë diagnose moontlik nie, dit verlaag die risiko van servikale kanker. Wanneer abnormale selle geïdentifiseer en verwyder word, is dit in baie gevalle selfs voordat die kankerselle begin ontwikkel het.

Kolorektale kanker of kolonkanker is die derde mees algemene kanker onder vrouens in Suid-Afrika. KANSA doen gereeld ‘n beroep op vrouens om hulle liggame te ken en om hulle te vergewis van enige verandering in die liggaam. Enige verandering in jou liggaam kan ‘n simptoom wees van ‘n verborge siekte of ongesteldheid. Moontlike waarskuwingstekens van kolorektale kanker sluit in ‘n verandering in dermgewoontes (diarree/hardlywigheid), rektale bloeding of bloed in stoelgang en aanhoudende ongemak in die abdomen (krampe, winderigheid of pyn).

Millicent Mulelu, ‘n kolorektale kankeroorwinnaar, sê alhoewel ‘n diagnose van kanker ‘n geweldige invloed op jou lewe en diegene rondom jou kan hê, behoort dit nie as ‘n doodsvonnis beskou te word nie. “Daar is maniere om die siekte hok te slaan, maar jy moet optimisties bly en terugbaklei en jy mag nooit moed opgee nie. Hoop is die kompas wat jou die weg van die oorwinning van kanker aanwys.”

Kanker van die baarmoeder, ook bekend as endometriumkanker, is die vierde mees algemene kanker onder vroue. Dit kom voor in die weefsel van die baarmoeder of endometrium wat die voering van die uterus is.

Joubert verduidelik, “Weereens is ons raad dat jy ‘n mediese gesondheidpraktisyn moet gaan sien as jy enige van die volgende waarskuwingstekens ondervind of waarneem: – abnormale vaginale bloeding of ontslag; pyn in die pelvis of buik, veral as jy urineer of tydens seksuele omgang. Vroeë opsporing is van die allergrootste belang en lei tot beter resultate na behandeling.”

En dan is daar longkanker as die vyfde mees algemene kankers onder vroue. Statistieke toon aan dat hoe meer ‘n persoon rook, hoe groter is die risiko om longkanker te ontwikkel. Longkanker is ook meer geneig om te ontwikkel in mense wat op ‘n jong ouderdom begin rook het. As die persoon egter ophou rook, verminder die risiko om longkanker te ontwikkel dramaties en na afloop van 15 jaar nadat die persoon ophou rook het, is die kans dat die persoon longkanker kan ontwikkel, soortgelyk aan die van ‘n persoon wat nooit gerook het nie.

KANSA Help Kanker Vroegtydig Opspoor

As vrouens meer aandag skenk aan die ‘Groot Vyf’ kankers wat by vroue voorkom, sal hulle beter voorbereid wees om hul persoonlike risiko vir kanker te verminder en om die fisiese en emosionele impak wat met ‘n diagnose van kanker gepaard gaan, te vermy.

“Ons erken die belangrike rol wat vroue speel in die maatskaplike en ekonomiese welvaart van ons land. Ons het ook groot waardering vir vrouens wat hulle gesinne versorg en ‘n groot invloed het op die gesondheid van die gesin as geheel. Kliniese Borsondersoeke, Papsmere en die Risiko Assessering van ‘n Gesonde Leefwyse word aangebied vir vroue by alle KANSA Sorgsentrums landwyd om die vroeë opsporing van vrouekanker te bevorder. Ons ondersteun ook kankerpasiënte en hul gesinne deur middel van berading en ondersteuningsgroepe,” sê Joubert.

KANSA beskik ook oor Mobiele Gesondheidklinieke wat siftingstoetse aanbied vir mense in gemeenskappe wat nie maklike toegang tot gesondheidsorg en –ondersoeke het nie.

Gedurende die maand Oktober kan mense deelneem aan ‘n KANSA ‘Shades of Pink’ Staptog om bewustheid te skep oor kankers wat vroue raak en om te help om fondse in te samel om KANSA te help met voortgesette siftingstoetse vir vroue en pogings om vroue te ondersteun. Kry hier meer inligting oor die naaste geleentheid naby jou.

Meer Oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

Vir meer inligting besoek www.cansa.org.za of kontak KANSA tolvry by 0800 22 66 22 of of stuur ‘n epos na info@cansa.org.za – volg KANSA op Twitter, Facebook, en Instagram. KANSA bied veeltalige ondersteuning aan op  Whatsapp: 0721979305 vir Engels en Afrikaans en 0718673530 vir Xhosa, Zulu, Sotho and Siswati.


« BACK


Do you have a question?