Stories of Hope

KANSA Vrywilliger Phoebe Appies Maak dit Haar Missie om Ander oor Kanker in te Lig

Phoebe Appies

Phoebe Appies

Phoebe Appies is reeds twee jaar vry van borskanker en maak dit haar missie om ander oor hierdie siekte en ook ander kanker in te lig.

Sy is ’n vrywilliger vir KANSA en sy wil die stigma rondom bors- en ander kankers breekPhoebe is gelukkig getroud, ’n ma van vier kinders en ook alreeds ouma.

Phoebe Appies (51) van Ravensmead se lewe het drasties verander nadat sy met borskanker gediagnoseer is. Die enigste siekte wat ek op daardie stadium onder lede gehad het, was hoë bloeddruk, ’n familiesiekte,” verduidelik sy. Alhoewel haar pa aan longkanker oorlede is, is kanker nie ’n siekte wat algemeen in Phoebe se familie voorkom nie.

Phoebe is in 2014, net nadat sy 49 jaar oud geword het, gediagnoseer met borskanker. “Ek het in 2012 daghospitaal toe gegaan oor ’n knop in my bors. Daar het hulle vir my net antibiotika gegee, en gesê ek het niks om oor bekommerd te wees nie. Die antibiotika het wel die knop laat verdwyn, maar dit het in Mei 2014 weer teruggekeer. Op my man se aanbeveling is ek weer terug dokter toe.

“Ek het ’n afspraak by ’n privaat dokter in Belhar gekry en ná my ondersoek, het die dokter onmiddellik vir my ’n afspraak by Tygerberg-hospitaal gereël.” Phoebe moes twee weke wag voordat sy ’n dokter by Tygerberg kon spreek. Toe moes sy ‘n biopsie ondergaan, maar ongelukkig kon dit niks bewys nie, omdat die vog toe nie genoeg was vir ’n duidelike uitslag nie. Phoebe moes vir ‘n tweede keer ‘n biopsie laat doen en het ook ’n stukkie van die besmette bors verwyder om dit te laat toets.

Verskeie toetse en ondersoeke het oor ’n tydperk van twee weke gevolg.

“Die oggend van 15 Julie 2014 moes my man gaan werk. Hy kon nie saamgaan hospitaal toe nie. Ek het amper heeldag by die hospitaal gesit en wag en teen middagete sê ’n stem vir my ek gaan goeie én slegte nuus ontvang. Net daarna het die dokter my geroep, en gesê sy het goeie en slegte nuus.” Die knop was wel vol kanker, maar die goeie nuus was dat dit verwyder kon word.

Ek moes nog toetse ondergaan om dubbel seker te maak dat dit wel borskanker is.” Ná al die toetse bevestig het sy hét borskanker, moes sy die taxi huis toe neem. “Eers in die taxi kon ek oor alles dink en het ek verskriklik hartseer gevoel. Kort nadat ek by die huis aangekom het, het my man opgedaag. Ons het eers alleen tyd saam deurgebring en toe die kinders van die kanker vertel.”

In Oktober 2014 moes Phoebe weer by die hospitaal aanmeld om die professors wat haar sou behandel, te ontmoet.

Hulle het aan my verduidelik hoe ver die kanker gevorder het en wat die stappe vorentoe sou wees. Op hierdie stadium het die professors die kanker as fase twee gediagnoseer en gesê dat hulle die knop kan verwyder sonder dat ek die bors hoef te verloor. Hulle kon nog nie bevestig watter soort behandeling ek sou moes kry nie. Dit sou hulle eers na die operasie kon bevestig.”

Phoebe moes reeds drie dae voor die operasie by die hospitaal inboek, en twee dae voor die operasie het die professors aan haar en haar man kom verduidelik dat hulle wel die bors sou moes verwyder, aangesien die kanker toe reeds verder versprei het.

Dit het beteken dat Phoebe geen chemoterapie of bestraling sou hoef te ontvang nie. “Ek het aan die professors gesê as dit beteken dat die kanker uit my liggaam verwyder sou word, dan moet hulle die bors verwyder. Ek is die Sondag voor my operasie weer in die hospitaal opgeneem vir ’n CT-skandering van my hele liggaam,” vertel
Phoebe.

Die oggend van 13 November 2014 is ek teater toe gestoot en die operasie is uitgevoer. “Toe ek later die middag bykom, het die dokters aan my verduidelik dat die operasie goed verloop het. Ek het al die ander pasiënte wat nog die mastektomie moes ondergaan, bemoedig dat ons wel genees gaan word. Die Woensdag na die operasie is ek ontslaan en was onbewus van die verrassing wat op my sou wag.”

Dis eers toe sy by die huis aansterk en uiteindelik die wond moes skoonmaak, dat sy tot haar verbasing besef haar hele bors is toe nie verwyder nie, maar dat sy net ’n lumpektomie gehad het! “Ek en my man was so bly, want ons het verwag dat die bors af sou wees. Ek moes nog vir vyf weke by die huis aansterk voordat ek weer kon gaan werk, en as gevolg van al die kere wat ek by die dokter moes wees, was my verlof opgebruik en moes ek onbetaalde verlof neem,” verduidelik sy.

Phoebe het goed aangesterk en moes weer die dokters en professors besoek vir die uitslae van toetse na die operasie. “Die dokter het ’n lys voor haar gehad en by elke afdeling gelees dat ek kankervry is, maar dat ek wel nog ’n klein operasie moes ondergaan om my eierstokke te verwyder en dat ek vir vyf jaar ’n tablet moet gebruik. Dit was die beste nuus ooit!” “Ek is lief vir my liggaam ten spyte van my litteken. Ek is lief vir die vrou wat ek elke dag in die spieël sien, en my man is nog liewer vir my,” sê sy met ’n glimlag.

Phoebe gaan nog elke ses maande vir haar mammogram-ondersoeke net om seker te maak die kanker het nie weer sy kop uitgesteek nie. “Voorkoming is beter as genesing, daarom raai ek enige vrou aan om ’n afspraak te maak vir ’n mammogram.”

Bron: Die Burger – lees volle berig hier…

KANSA Kan Help

Phoebe is ‘n aktiewe lid van KANSA se Champions of Hope Facebook Ondersteuningsgroep, vir kankerOorwinnaars en inspireer en bemoedig gereeld ander lede van die groep. Sluit gerus by die groep aan.

Lees meer oor borskanker en kontak gerus jou naaste KANSA Sorgsentrum vir advies of ondersteuning of om ‘n kliniese borsondersoek te reel.


« BACK


Do you have a question?