About CANSA

KANSA Vier 85 Jaar se Stryd om ‘n Wêreld Sonder Kanker te Skep

KANSA Vier 85 Jaar se Stryd om ‘n Wêreld Sonder Kanker te Skep

English Press Release

4 Augustus 2016 – Niemand sou in 1931 kon voorspel wat ‘n grootskaalse en wydverspreide impak die Nasionale Kankervereniging, soos dit toe genoem is, sou gehad het toe dit in daardie jaar gestig is nie.

Vandag speel die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) ‘n leidende rol in kankernavorsing en die ontwikkeling van die beleid en beheer van kanker, sowel as die voorsiening van sorg, ondersteuning en opleiding aan Suid-Afrikaners wat geraak word deur hierdie gevreesde siekte.

85th Banner

Teen die tyd toe die Nasionale Kankervereniging se naam verander het na die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) in die 1990’s, was die nie-winsgewende organisasie stewig gevestig as die land se leidende rolspeler in kankernavorsing, opleiding en ondersteuning. Daarbenewens het KANSA beleidontwikkeling beïnvloed. KANSA het ‘n belangrike bydrae gemaak tot die wysiging van die anti-tabak wetgewing aangaande die verbanning van tabakadvertensies en –borgskap aktiwiteite.

Sedert sy nederige begin in die 1930’s, het KANSA gedurende elke dekade geleidelik ontwikkel om ‘n omvattende diens aan die publiek te lewer. Hierdie diens het ‘n positiewe verskil gemaak in die lewens van duisende Suid-Afrikaners wat deur kanker geraak word.

“Ek glo vas dat die stigters van KANSA trots sou wees oor wat die Kankervereniging bereik het en nogsteeds strewe om te vermag,” sê Elize Joubert, Hoof Uitvoerende Beampte van KANSA. “Ons het nie net voortgebou op hul nalatenskap nie, maar het ook hul visie aangaande versorging, opleiding en navorsing uitgebrei.”

Sien video boodskappe ter viering van KANSA se 85 jaar stryd om ‘n wêreld sonder kanker te skep…

Erkenning

Gedurende die afgelope paar jaar in besonder het KANSA nasionale erkenning ontvang vir betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se stryd teen kanker. In 2015 en 2014 is KANSA vereer met die eerste plek in die Nie-regeringsorganisasie (NRO) se sektor van PMR se Diamond Arrow Algehele Nasionale Opname se Korporatiewe Maatskaplike Verantwoordelikheid Programme en Inisiatiewe. In 2013 het KANSA ‘n Goue Toekenning vir Vrygewigheid en Uitnemendheid ontvang van die Universiteit van Stellenbosch se Visekanselier Tekenings.

Die KANSA handelsmerk is aangewys as die “mees betroubaarste” deur Reader’s Digest in die kategorie van Liefdadigheid in 2014 en die “Hoogs Prysenswaardigste” in 2015. Die jeug het KANSA aangewys as die “coolest” handelsmerk in die 2016 Sunday Times Generation Next Survey.

In November 2015 is KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) aangewys as “Die Afrika Kontinentale Wenner vir Welsyn en Burgerlike Samelewing Organisasies” by die 2015 se “Afrika se Mees Invloedryke Vroue (MIV) in Besigheid en Regering” toekenningsgeleentheid. Dit volg nadat sy twee toekennings in Julie gewen het: ‘Landwenner van Suid-Afrika’ en ‘SADC Suidelike Streekswenner’ in die kategorie ‘Welsyn en Burgerlike Samelewing Organisasies.’

Daarbenewens het KANSA se geïntegreerde verslag verskeie kere erkenning ontvang van die Suid-Afrikaanse Geoktrooieerde Sekretarisse Jaarverslag-toekennings in die NRO Kategorie . KANSA is in 2011 aangewys as die wenner van die Beste Volhoubare Verslag en het meriete toekennings in 2012 en 2013 ontvang.

Awards post

KANSA se Gemeenskap

KANSA steun tot ‘n groot mate op korporatiewe skenkers, kontant donasies en vrywilligers om die organisasie se uitgebreide dienste en fasiliteite te finansier. Dienste sluit gesondheid, mediese sorg, ondersteuningprogramme, voorspraak en navorsing-inisiatiewe in.

Joubert glo dat een van KANSA se mees buitengewone prestasies in sy 85ste bestaansjaar die feit is dat die Kankervereniging ‘n gemeenskap van mense bymekaar gebring het wat almal op die een of ander manier deur die gevreesde siekte geraak is. Hierdie mense werk saam as ‘n span om fondse in te samel en om die werk wat gedoen moet word, te doen.

“Hierdie gemeenskap sluit mense in soos kankeroorwinnaars, versorgers, mediese personeel, professionele navorsers, borge en die algemene publiek, wat ons nooit in die steek laat nie en ons altyd verras met hulle gawes en gunste. KANSA maak staat op hierdie mense wat vrygewig is met donasies, tyd en ondersteuning in ons veldtogte wat op nasionale en streeksgebiede aangebied word,” sê Joubert.

Van KANSA se grootste jaarlikse veldtogte sluit die volgende in: CANSA Shavathon, CANSA Relay For Life, Cuppa For CANSA en verskeie sportgebeure wat moontlik gemaak en ondersteun word deur uitgebreide bemarking en promosie – alles wat gerig is om bewustheid te verskerp en om ander te beïnvloed om hande te vat om saam teen kanker te stry. “Ons moet ook erkenning gee aan die magdom van werk en inisiatief wat gepaard gaan met die aanbieding van KANSA veldtogte wat maand vir maand in gemeenskappe regoor ons land deur KANSA aangebied word,” sê Joubert.

Voorspraak en Deelname

KANSA doen tans voorspraak vir die wysiging van die patentreg wat meer bekostigbare medikasie vir kankerpasiënte tot gevolg sal hê. KANSA het ook ‘n dokument voorgelê aan die Adjunkminister van Gesondheid met die ondersteuning van 16 000 handtekeninge ter ondersteuning dat sonbeddens vir kinders onder die ouderdom van 18 jaar verbied sal word.

KANSA was ook in die verlede suksesvol in hul pleitrede aan die Nasionale Departement van Bekostigbare Medisyne om groot hoeveelhede en kwaliteit sonskerm te verskaf aan mense met albinisme en om kanker te verklaar as ‘n geregistreerde siekte as deel van die Nasionale Wet op Gesondheid. KANSA neem ook deel en behartig nasionale kanker voorspraak-inisiatiewe en dienste as ‘n lid van die Kanker Alliansie en stigter van die Suid-Afrikaanse Alliansie vir Nie-Oordraagbare Siekte.

KANSA se Geskiedenis in Kort

Ons Strewe na ‘n Wereld Sonder Kanker

1930s

  • Die Stigters se aanvangspunt was om kanker te registreer en om kankersentrums en –klinieke landswyd op te rig waar kenners optimale opsies aangaande behandeling en diagnostiese metodes kon ondersoek.

1940s

  • Vordering is vertraag deur die Groot Depressie en die tweede Wêreldoorlog, maar het weer 1950’s voortgegaan toe die Vereniging opvoedkundige programme beskikbaar gestel het. Hierdie programme het gehandel oor die belangrikheid van die vroeë opsporing van kanker en ‘n gesonde leefwyse.

1950s

  • Kliniese fasiliteite vir die vroeë opsporing van kanker van die baarmoeder is gestig en ‘n laboratorium in Durban het jaarliks nagenoeg 70 000 Papsmere behartig.
  • Dr George Oettlé was die eerste navorser van kanker wat in 1958 ‘n subsidie van KANSA ontvang het om programme oor navorsing oor kanker in Suid-Afrika te inisieer.

1960s

  • Die eerste interim tehuis (nou bekend as KANSA Sorgtuistes) is in Pretoria gebou. Soortgelyke fasiliteite is in Johannesburg, Bloemfontein, Durban, Kaapstad en Port Elizabeth opgerig.

1970s

  • ‘n Innoverende opvoedkundige en fondsinsamelings inisiatief met die naam van ‘Toktokkie’ (ook bekend as ‘Tap-Tap’) is landswyd van stapel gestuur.
  • Subsidies en skenkings vir navorsing by verskeie groot universiteite en navorsingsentrums het voortgeduur. Navorsing in Suid-Afrika was gelykstaande aan navorsing regoor die wêreld. Dit het dit vir Suid-Afrikaanse terapeute bemagtig om die graad van terapie vir kankerpasiënte voortdurend te verbeter en aan te pas.
  • Gemeenskapdienste is uitgebrei en ‘n volledige sorgprogram is ontwikkel om kankerpasiënte en hul gesinne by te staan – vanaf die diagnose tot en met die terminale fase en ontvalling van sekere pasiënte. Dokters, verpleegsters, maatskaplike werkers, predikante en vrywilligers was almal betrokke by hierdie inisiatiewe.
  • Vrywilligers het deel gevorm van die ‘Ek kan dit Hanteer’-programme wat ontwerp is om kankerpasiënte en hul naasbestaandes te help om die diagnose en siekteverloop van kanker te aanvaar. Ander ondersteuninggroepe soos Reik na Herstel (Reach for Recovery) vir pasiënte met borskanker en kankeroorwinnaars is gestig.

1980s

  • As ‘n lid van die organisasie bekend as Die Unie vir Internasionale Kankerbeheer (Union for International Cancer Control (UICC), was die Nasionale Kankervereniging die gasheer van die UICC se Uitvoerende ‘s Komitee in Johannesburg, sowel as ‘n internasionale konferensie oor kanker van die slukderm in Kaapstad.
  • Sorgfasiliteite se deure het oopgemaak in Soweto, Langa, Wes Kaap en Mangaung in die Vrystaat, waar ‘n verskeidenheid van gemeenskapdienste aangebied is.
  • Die “Hospicare” Programme het ook verskeie dienste aangebied – dienste wat gewissel het van tuisverpleging tot pynbeheer.
  • Die Karl Bremer hospitium en later die Theunis Fichardt hospitium, se deure het oopgemaak.

1990s

  • Die Nasionale Kankervereniging se naam verander na die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) en ‘n nuwe korporatiewe identiteit word ontwikkel.
  • KANSA se missie was: ‘Om te stry teen kanker en die gevolge van die siekte’. Die stryd sou landswyd strek tot voordeel van alle Suid-Afrikaners in samewerking met die gemeenskappe en ondersteun word deur navorsing, gesondheidopleiding, die verskaffing van inligting rakende die siekte en die behandeling daarvan, versorging, en ondersteuningsdienste.’
  • KANSA se Nasionale Hoofkantoor het verskuif van Braamfontein tot Bedfordview.
    ‘n Inligtingsdiens is gevorm om inligting rakende kanker in te samel en ‘n argief op te bou sodat die inligting aan die publiek beskikbaar gestel kan word en om die publiek in te lig oor KANSA se aktiwiteite.
  • KANSA se strewe was ook om inligting en resultate van navorsing te deel met kankerpasiënte en hulle naasbestaandes en vriende, akademici, mediese professionele werkers, studente en lede van die publiek. Dit is later herdoop tot die KANSA Wetenskap en Hulpbronne Sentrum in 2009.
  • Die eerste Mobiele Gesondheidskliniek is in die Vrystaat bekendgestel. KANSA het nou nege mobiele klinieke wat na afgeleë gebiede reis om siftingstoetse en vroeë opsporingsprogramme te verskaf.
  • As ‘n lid van die Tabak Aksie Groep, het KANSA ‘n groot rol gespeel in die anti-tabak wetgewing van 1999 om advertensies en borgskap-aktiwiteite van tabakprodukte te staak.
  • Die Sanlam Kanker-Uitdaagreeks is in 1993 van stapel gestuur. Die resultaat hiervan was dat meer as 40 000 golfspelers regoor die land in meer as 800 golf klubkampioenskappe deelgeneem het.

2000s

  • KANSA se beeld word meer modern met ‘n nuwe logo en korporatiewe boodskap: ‘Strewe vir ‘n Kanker Slim Suid-Afrika’.
  • KANSA se drieledige geïntegreerde diens word bekend gemaak aan alle mense in Suid-Afrika wat deur kanker geraak word: (navorsing, voorspraak en gesondheidprogramme).
  • Die KANSA Shavathon vloedgolf tref Suid-Afrika in 2003 met duisende mense wat deur kanker geraak is en die algemene publiek wat hulle ondersteun deur hul eie hare te skeer, kleur, sny of sproei. Mense doen dit om solidariteit vir kankerpasiënte bewys. Die veldtog lok elke jaar meer en meer mense en dit het ‘n belangrike datum op die Suid-Afrikaanse kalender geword.
  • KANSA se veldtog oor omgewingsbewustheid het volgende aan die beurt gekom. Dit neem standpunt in oor omgewingssake wat kanker bevorder. KANSA doen eers navorsing oor die omgewingskwessies wat ter sprake is en ryk dan verklarings uit oor hoe die hantering van sekere omgewingsake die publiek se gesondheid raak.
  • KANSA se Voorspraak Departement waarborg die publiek dat die Kankervereniging sy rol as “waghond” ernstig opneem.
  • Die “KANSA Seël van Erkenning” etiket op ‘n produk beteken dat KANSA die produk getoets het en voorstel dat die publiek die produk kan gebruik sonder om bekommerd te wees dat dit skade kan aanrig. Produkte met die etiket help om die risiko van kanker te verminder. Soek na produkte met die ‘Smart Choice’ en ‘SunSmart Choice’ –etikette.
  • Die wêreldwye beweging genaamd Relay For Life is in 2005 bekendgestel. By hierdie geleenthede word 5 500 kankeroorwinnaars se lewens herdenk en 4 500 spanne neem jaarliks daaraan deel.
  • KANSA se program oor limfedeem en kanker is in 2009 tydens die Vrouegesondheid veldtog bekendgestel.

2010s

  • KANSA streef daarna om seker te maak dat die stryd teen kanker een van die beleidmakers se top prioriteite is.
    Die Vereniging bevorder die korrekte etikettering van produkte – veral van trans-vette – wat gegrond is op wetenskaplike bevindinge.
  • KANSA vra vir die publiek en die Regering om kinders te beskerm teen skadelike chemikalieë soos BPA in speelgoed en bababottels.
  • Die nuwe gesondheidsveldtogte word bekend gestel: Mansgesondheid, Gesondheid van Vroue en die Gesondheid van die jeug en kinders.
  • KANSA het sy visie verander na die boodskap van: “Stel jou voor ‘n wêreld sonder kanker.”
  • KANSA se ‘Tough Living with Cancer (TLC)’ is bekendgestel. Die hoofdoel van TLC is om bewustheid van kinderkanker te kweek en om tasbare sorg- en ondersteuningsdienste te verskaf aan kinders en hul gesinne wat deur kanker geraak word. Tuistes is geopen vir ouers of voogde wie se kinders behandeling vir kanker ondergaan. Daar is tuistes in Pretoria, Durban en Polokwane plus ondersteuningkamers in Kimberley en Port Elizabeth.
  • KANSA sluit aan by die aanlyn gemeenskap op Facebook, Twitter, Youtube, Pinterest, Instagram en LinkedIn. Die KANSA webwerf, www.cansa.org.za, word opgegradeer om selfoon-aanpasbaar te wees, om die publiek op hoogte te hou oor hoe om hul kankerrisiko te verminder en om aanlyn-ondersteuning te verskaf aan dié wat deur kanker geraak is.
  • KANSA neem ook deel en behartig nasionale kanker voorspraak-inisiatiewe en dienste as ‘n lid van die Kanker Alliansie en stigter van die Suid-Afrikaanse Alliansie vir Nie-Oordraagbare Siektes.
  • In 2013, georganiseer deur die UICC en aangebied deur KANSA, vergader Verenigde Nasie amptenare, Ministeries van Gesondheid en internasionale leier besluitnemers, vir die eerste keer in Afrika, om die groeiende kankerlas by die 2013 World Cancer Leaders’ Summit (WCLS) in Kaapstad te bespreek.
  • In 2015 vereer KANSA Professor Michael Kew met ‘n Lifetime Achievement Award vir sy bydrae en kennis van primêre lewerkanker. Danksy sy werk is daar ‘n verband tussen Hepatitis B en lewerkanker ontdek, gevolg deur ‘n entstof wat lewens red. KANSA is trots daarop dat ons Prof Kew se navorsing vir meer as 30 jaar kon befonds.

Meer Oor KANSA

We-can-imagine-a-world-without-cancer-2KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir meer effektiewe programme om kanker risiko te verminder en meer effektiewe behandeling van kanker; asook vir ons gesondheidsprogramme om publiek in te lig oor hul eie aksie om die risiko van kanker te verminder en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidsprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, onder andere stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Lees meer oor hoe KANSA die stryd teen kanker in jou gemeenskap beveg: Besoek www.cansa.org.za of kontak KANSA tolvry 0800 22 66 22 of stuur ‘n epos aan: info@cansa.org.za. Volg KANSA op Twitter, Facebook, Pinterest en Instagram.

« BACK


Do you have a question?