Volunteers Inspire

KANSA Vereer Vrywilligers – Spanwerk laat die Droom Werk

KANSA Vereer Vrywilligers – Spanwerk laat die Droom Werk

English Media Release

17 November 2017 – KANSA vier volgens tradisie weer vanjaar Internasionale Vrywilligersdag op 5 Desember. Hierdie dag waarop vrywilligers vereer word, het in 1985 begin toe die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies besluit het om voortaan jaarliks die mag en die potensiaal van vrywillige diensbaarheid te vier.

Elize Joubert, KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte sê: “Ons het ondervind dat vrywilligers afkomstig is van alle vlakke van die samelewing, maar dat almal van hulle die volgende in gemeen het: gewilligheid, harte van goud wat omgee en hande wat bereid en altyd gereed is om ander te dien. Hierdie onbaatsugtige mense help ons regtig om ons droom te verwesenlik en help ons om te bou aan ‘n wêreld sonder kanker. Hulle gee hulle tyd en energie vrywillig tot voordeel van ander in hul gemeenskappe. Hulle bied hulle dienste aan as sosiale verantwoordelikheid teenoor die samelewing sonder enige finansiële vergoeding.”

Laai PDF af…

As ‘n nie-winsgewende organisasie steun KANSA baie op die hulp van nagenoeg 7 000 opgeleide vrywilligers om te help om die stryd teen kanker in hul plaaslike gemeenskappe te oorwin. KANSA vier Internasionale Vrywilligersdag deur gasheer te wees van spesiale funksies wat landwyd by KANSA SorgSentra aangebied sal word om die werk van hierdie onbaatsugtige individue te erken en om hulle te bedank. Die funksies word ook gereël om mense bewus te maak van die baie belangrike rol wat vrywilligers speel in die stryd teen kanker.

“Ons vrywilligers word hoog op prys gestel en waardeer en ons beskou hulle as waardevolle medewerkers wat ons personeel regoor die land bystaan. Hulle is ook van onskatbare waarde omdat hulle mense in hul plaaslike gemeenskappe leiding gee aangaande kanker en belangrike inligting oordra soos die vroeë opsporing van kanker en die simptome van die siekte. Hulle maak ook mense bewus van gereelde siftingstoetse vir kanker en van die belangrikheid van ‘n gesonde en gebalanseerde lewenstyl om die risiko van kanker te verminder. Hulle bied ook sorg en ondersteuning aan kankerpasiënte en hul geliefdes, help met administratiewe werk en help ons om fondse vir KANSA in te samel,” sê Joubert.

Vrywilligers Dikwels Persoonlik deur Kander Geraak

Vrywilligers is dikwels mense wie se lewens persoonlik deur kanker geraak is – hulle is of self kankerOorwinnaars of ken iemand wat is. Ander wil eenvoudig net mense met kanker in hulle gemeenskap help om die las van die siekte te dra. Vrywillige diens gee ook die geleentheid vir mense om meer kennis, vaardigheid en ondervinding op te doen wat hulle kan help met ‘n toekomstige loopbaan. Dit sluit ook leierskap, bestuur, berading, kommunikasievaardighede en funksie koördinering in.

Sharon Fransman, ‘n KANSA vrywilliger, verduidelik: “Dikwels het kankerpasiënte of mense wat deur kanker geraak word, net iemand nodig om mee te praat en iemand wat bereid is om te luister. As ‘n vrywilliger word jy een van die belangrikste reisgenote van mense wat kanker het of daardeur geraak word.”

KANSA vrywilligers word gekeur, opgelei en ondersteun deur personeel van KANSA. Hulle kan kies om diens te doen op die gebied waar hulle elkeen hul eiesoortige talente kan uitleef. Opleiding word verskaf ten opsigte van gesondheidsbevordering, pasiëntesorg, en ondersteuning van pasiënte, voorspraak, fondsinsameling sowel as bemarking en administrasie.

Joubert voeg by: “KANSA het vrywilligers nodig om saam met ons in plaaslike gemeenskappe te werk. Ons nooi jou uit om betrokke te raak in die gemeenskap waar jy woon en om jou plaaslike KANSA SorgSentrum te ondersteun.” Teken in op ons KANSA webwerf by of kontak jou KANSA Sorgsentrum om as vrywilliger aan te sluit.”

FAQs – KANSA Vrywilligers
10 Voordele as jy as ‘n vrywilliger aansluit

#FightCancerTogether #CANSACares #InternationalVolunteersDay

Meer Oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

Vir meer inligting besoek www.cansa.org.za of kontak KANSA tolvry by 0800 22 66 22 of of stuur ‘n epos na info@cansa.org.za – volg KANSA op Twitter, Facebook, en Instagram. KANSA bied veeltalige ondersteuning aan op  Whatsapp: 0721979305 vir Engels en Afrikaans en 0718673530 vir Xhosa, Zulu, Sotho and Siswati.


« BACK


Do you have a question?