CANSA Malmesbury Care Centre

KANSA Mobiele Eenheid besoek Weskus-distrikte

KANSA Mobiele Eenheid besoek Weskus-distrikte

Gedurende Julie en Augustus 2011 het KANSA in samewerking met die Departement van Gesondheid ‘n gesondheidsprojek geloods in die Matsikama- en Sederberg-distrikte. Die KANSA Mobiele Eenheid is gebruik om uit te reik na gemeenskappe in dorpe en op plase in Vanrhynsdorp, Klawer, Vredendal en Lutzville (Matsikama-streek), en in Clanwilliam, Graafwater en Leipoldtville (Sederberg-area). Vroue is bereik op die plase waar hul werk en ingelig deur praatjies oor Vrouegesondheid en die risiko-faktore rakende borskanker en servikale kanker. Behalwe die inligtingsessies het Sr Sielie Viljoen en Sr Tertia van Zyl ook meer as 170 papsmere en 190 borsondersoeke gedoen. Elke vrou wat gekonsulteer is, is bemagtig met die vaardigheid om bors-selfondersoeke te kan doen.

Die foto’s toon vroue van Zandrug-plaas (Clanwilliam), Vanrhynsdorp-kliniek, Seekoevlei (Clanwilliam) en Houmoed-stoor (Klawer) wat die sessies bygewoon het.

Twee vroue van Lutzville se kommentare was insiggewend:

Christina Boois het opgemerk: “ Dankie vir die KANSA-bus. Die bus gee vir ons dienste soos die kry van papsmere en die ondersoek van ons borste. Ons leer meer van die gevare van vrouekanker – ons kan nie elke keer kliniek toe gaan as ons nog gesond is nie…”

Patricia Boois (48): “’n Mens moet bewus wees van jou liggaam en van die werk wat KANSA doen.  Dankie dat julle omgee vir ons.”

Die vroue van die plase waar die Mobiele Eenheid besoek afgelê het , is dit almal eens: “Dit help baie, want die klinieke is baie vol en as ons werk, is daar nie tyd as jy gesond is om kliniek toe te gaan nie. Nou kan ons net 30 minute afneem by die werk en nog steeds kyk na ons gesondheid.“

KANSA lewer ‘n noodsaaklike diens in hierdie gemeenskappe. Die samewerking met Departement van Gesondheid is uitstekend in die Matsikama- en Sederberg-areas saam maak ons ‘n groot verskil.

Navrae KANSA:

Lisna Hugo
Tel.: 027-482 1111
Epos: lhugo@cansa.org.za 

« BACK


Do you have a question?