CANSA Upington Care Centre

KANSA Kathu Cluster open hul nuwe kantoor

KANSA Kathu Cluster open hul nuwe kantoor

Nuwe KANSA kantore te Tshimo Gardens Kathu

20 Julie 2012 was ‘n rooiletter dag in die geskiedenis van die KANSA Kathu Cluster. Dit is die dag toe die nuwe KANSA kantore ingehuldig is. 11:00 is al die gaste verwelkom waarna die KANSA Streekbestuurder, Christa Stadler ‘n oorsig gegee het oor wat KANSA in die afgelope 80 jaar bereik het. Die gaste is ook meegedeel dat KANSA op 3 bene staan naamlik navorsing, dienste en bewusmaking. Christa het veral daarop gefokus dat 80 jaar gelede, 3 persone gediagnoseer is met kanker en 3 oorlede is as gevolg van kanker. Vandag 80 jaar later word 3 persone gediagnoseer met kanker en slegs 1 persoon sterf as gevolg daarvan. Bo en behalwe hierdie deurbraak het KANSA ook die uitvinder van die Hepatitus B inspuiting wat alle kinders op ‘n jong ouderdom ontvang befonds. Hierdie inspuiting voorkom lewerkanker by kinders.

Mnr en Mev Antonie en Antoinette du Bruyn is bedank vir die Log Home ter waarde van R64 000 wat hulle geskenk het om as kantoor vir KANSA te dien. Mnr Johan Joubert, Bestuurder van Builders Market op Kathu is ook bedank vir die teels wat hulle geskenk het en Paul Visser en sy span is ook bedank vir die spasie waarop die nuwe kantoor opgerig is. Linaliah Hudson het hulle geskenkies oorhandig. Tannie Annetjie, eienaar van die Tshimo Teetuin het die koffie en tee geborg en Ds. Andre de Villiers die smul lekker koek wat daarmee saamgegaan het. Ons bedank hulle ook, want sonder die koek en koffie sou dit nie ‘n ware feesviering kon wees nie!

Ds. Schalk van die NG Kerk op Kathu, wat ook deel van die Mentorspan van die Kathu vrywilligerspan is, het ‘n kort boodskap oor diensbaarheid gelewer waarna hy afgesluit het met ‘n seëngebed vir die nuwe kantoor. Antonie du Bruyn is gevra om saam met Lizanie Wall die lint te knip en sodoende amptelik die nuwe kantoor te open.

KANSA is uiters dankbaar vir die groot deurbraak ten opsigte van die nuwe kantoor. KANSA het vir twee jaar tydelik ‘n klaskamer by die NG Kerk gehuur en as kantoor gebruik omdat daar op daardie stadium nie ander kantore of spasie in Kathu beskikbaar was nie. KANSA het geweet dat ‘n permanente opset ondersoek moet word en toe nog 2 personeellede aangestel is, het die behoefte dringender geword. Tshimo Gardens was gereed om nuwe besighede te akkommodeer en was bereid om vir KANSA ‘n spasie beskikbaar te stel sou ons ‘n kantoor kry wat ons daar kon oprig. KANSA het verskillende opsies oorweeg en ‘n kwotasie aangevra van Delux Log Home Mnr Antonie en sy vrou Antoinette du Bruyn het aangebied om die Log Home te skenk, volledig toegerus met binnemure, ligte en kragproppe. Selfs die arbeid om die teels wat Builders Market geskenk het in te sit is deur Mnr. Antonie geborg. CM Konstruksie het aangebied om later vir die kantoor kaste te installeer en Ross-Air het ook aangebied om ‘n lugversorger en die installasie daarvan te borg sodra die kragtoevoer na die kantoor finaal geinstalleer is. Alles het van dag een af net in plek geval wat vir KANSA die bewys is dat die regte stap geneem is. KANSA was meer as bereid om ‘n projek hiervan te maak om fondse te genereer sodat ‘n permanente kantoor opgerig kon word, maar nou het die oop hart en hande van die gemeenskap veroorsaak dat KANSA nie nodig het om hulle fondse te gebruik ten opsigte van ‘n nuwe kantoor nie, maar dat hierdie fondse nou gebruik kan word om ‘n verskil te maak in ‘n hele paar pasiente en hulle versorgers se lewens.

Neem asseblief die vrymoedigheid om ‘n pasient te kom aanmeld, hulpmiddels te gebruik as u dit benodig, te kom gesels met ons as u enige idees het oor hoe KANSA nog meer diensbaar aan die gemeenskap kan wees of kom drink sommer net ‘n koppie koffie en ontmoet die KANSA Kathu Cluster span wat vuur en vlam aan die werk is sodat u op hoogte gehou kan word oor die nuutste wat navorsers uitgevind het, sodat u bedien kan word met hulpmiddels wanneer u dit benodig, sodat u volkome ingelig kan wees rondom die aspekte van kanker en die hoop wat daar vir kankerpasiente is.

Ons wil u ook aanmoedig om betrokke te raak by KANSA al is dit net deur ‘n sms een maal per maand vir ‘n kankerpasient te stuur of ‘n gebed elke dag te doen. Dit maak ‘n verskil. As u op hierdie wyse of op ‘n ander manier betrokke wil raak, kontak asseblief die KANSA kantoor tydens kantoor ure by 081 356 9947.

KANSA sien uit daarna om nog stywer hande met u te vat en hierdie stryd teen kanker met alle mag en krag te beveg.

« BACK


Do you have a question?