Advocacy

Herwinning: Jou Baba se Lewe Kan Daarvan Afhang

Herwinning: Jou Baba se Lewe Kan Daarvan Afhang

Engelse Persvrystelling

28 Oktober 2011 – Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) doen ‘n oproep op alle Suid-Afrikaners om hulle by te staan in hulle ‘BPA Bababottel Omruil- en Herwinningsprojek’. Die pas-aanvaarde nuwe wet het die regering in staat gestel om die invoer, verspreiding en verkoop van alle polikarbonaat-bababottels wat BPA bevat, onmiddellik stop te sit. Daar is egter nog miljoene BPA bababottels in die rondte wat nog deur ma’s gebruik word, onbewus van die gesondheidsrisiko’s daarvan.

Die skadelike chemiese stof Bisfenol A (BPA) word in polikarbonaatplastiek aangetref wat gebruik word om allerhande huishoudelike items te vervaardig, onder andere bababottels. BPA molekules migreer vanuit die bottel tot in die melk of ander vloeistowwe in die bottel, veral wanneer die vloeistof verhit word, soos in ‘n mikrogolfoond.  BPA  tree op as ‘n kunsmatige hormoon en kan die baba se hormoonontwikkeling skadelik beïnvloed en tot ernstige gesondheidsprobleme later in hulle lewe lei, soos byvoorbeeld hormoonafwykings, voortydige puberteit, vetsug, erektiele disfunksie, prostaat- en borskanker.  Laai KANSA se BPA Feite Oct2011 af

“Alhoewel ons baie dankbaar is dat die regering hierdie regulasie ingestel het,  en dat baie van die voorste kleinhandelaars hierdie BPA bababottels van hulle rakke verwyder het, bly ons baie besorgd oor die groot aantal onveilige bababottels wat nog in gebruik is,” sê Sue Janse van Rensburg, HUB van KANSA. ” KANSA het dus die ‘BPA Bababottel Omruil- en Herwinningsprojek’ geloods in samewerking met  Interwaste Herwinning en Shoprite Checkers en drie van ons  Seël van Erkenning vennote, naamlik Nuby, NUK en Pretty Baby om die publiek bewus te maak van die verskuilde gesondheidsgevaar sodat die derduisende polikarbonaat-bababottels uit ons gemeenskappe verwyder kan word.

Die veldtog word geloods en word daarin ondersteun deur Shoprite Checkers en Interwaste herwinning met 50 eeZeeBins.” Interwaste Herwinning het 50 eeZeeBins aan KANSA beskikbaargestel  – die publiek kan vanaf 1 November hulle polikarbonaat bababottels en produkte by enige KANSA Sorgsentrum landswyd neem om veilig herwin te word. Die eerste 6 000 gesinne wat reageer sal elk ‘n splinternuwe KANSA ‘Slim Keuse’ BPA-vry bababottel gratis in ruil kry. Die herwinningsuitnodiging geld ook vir enige kleinhandelaar aangesien daar tans geen polikaarbonaat-spesifieke herwinningsdepots beskikbaar is nie.

KANSA sal aanhou om die gebruik van BPA-vrye bababottels te bevorder deur seker te maak dat die boodskap om die gebruik of die weggee van ou polikarbonaat-bottels te staak, alle ouers bereik. “Help ons om soveel as moontlik skadelike BPA bababottels te onttrek; of help KANSA om die boodskap aan soveel as moontlik vriende en familie te versprei deur middel van Facebook en Twitter. Kom ons verlaag BPA-verwante gesondheidsrisiko’s, insluitende borskanker, deur by hierdie lewensreddende projek aan te sluit,” aldus Janse van Rensburg.

Na die aanvanklike 6 000 BPA-vrye bababottels uitruilingsveldtog, sal Interwaste se ‘eeZeeBins’  steeds by KANSA Sorgsentrums beskikbaar bly om soveel as moontlik polikarbonaat bottels uit die gemeenskap te onttrek en veilig te herwin. Vir meer inligting skakel die tolvryelyn 0800 22 66 22.

Vrae & Antwoorde

V: Wat is die BPA Bababottel Omruil- en Herwinningsprojek?

A: Die Kankervereniging van Suid-Afrika loods hulle ‘BPA Bababottel Omruil- en Herwinningsprojek’ na aanleiding van die regering se nuwe regulasie wat op die invoer, vervaardiging en verkope van polikarbonaat-bababottels wat BPA bevat,belet. Die publiek word aangemoedig om hulle ou polikarbonaat-bababottels na enige van KANSA se Sorgsentrums te bring vir herwinning en om hulle in ‘n Interwaste ‘eeZeeBin’ te gooi. Die eerste 6 000 gesinne wat reageer kry ‘n nuwe KANSA ‘Slim Keuse’ BPA-vrye bababottel in ruil. Borge sluit in Nuby, NUK en Pretty Baby vervaardigers asook Interwaste Herwinning.

Doelwitte van die projek sluit in:

  • Om BPA-verwante gesondheidsrisiko’s te verminder, insluitende borskanker; verhoging van die algemene bewustheid van BPA risiko’s en die onlangse  wetgewing wat die invoer en verkope van polikarbonaat bottels verbied
  • Om inligting te verskaf oor die verskeie BPA-vrye bottels op die mark
  • Om die publiek te bemagtig om ingeligte besluite te maak.

V: Wat is BPA en hoekom is dit sleg?

A: BPA is ‘n industriele, mensegmaakte molekule. Hoë volume BPA word gebruik in die vervaardiging van harde, deursigtige plastiek.Die is ‘n erkende endokriene ontwrigter wat karsinogenies van aard is. Die skadelike chemiese stof word in polikarbonaatplastieke aangetref wat gebruik word om allerhande huishoudelike items te vervaardig, onder andere bababottels. BPA molekules migreer in melk of ander vloeistowwe wat in polikarbonaat bababottels of houers voorkom. Wanner die vloeistof verhit word, kan daar tot 55 keer meer BPA vrygestel word.

Wanneer babas hierdie vloeistof inneem, word die die BPA molekules in hulle liggaampies absorbeer. BPA tree op as ‘n kunsmatige hormoon en kan die baba se hormoonontwikkeling skadelik beïnvloed en tot ernstige gesondheidsprobleme later in hulle lewe lei, soos byvoorbeeld hormoonafwykings, voortydige puberteit, vetsugt, erektiele disfunksie, prostaat- en borskanker.

V: Hoe sal ek weet of ‘n bababottel BPA bevat?

A: Bababottels, soos ander plastiekhouers, kan uitgeken word aan ’n herwinningsnommers wat aan die buitekant aangebring is. Die betekenis van hierdie nommers is soos volg:

  • Alle bottels wat die herwinningsdriehoek met die syfer “7” en die letters “PC” aantoon, is van polikaarbonaat gemaak, bevat BPA en moet vervang word.
  • Alle bottels met die herwinningsdriehoek en die syfer “7” en die letter “T” is van Tritan gemaak, is BPA-vry en is veilig om te gebruik.
  • Alle bottels met die herwinningsdriehoek met die syfer “5” en die letters “PP” is van polipropoleen gemaak, is BPA-vry en is veilig om te gebruik.

Ongemerkte bottels van ‘n rokerige of heuninggekleurde plastiek is moontlik veilig – maar dit behoort eers met die vervaardiger uitgeklaar te word. KANSA beveel aan dat bottels wat nie duidelik gemerk is nie (en derhalwe geen inligting oor sy chemiese samestelling bied nie), eerder nie aangekoop moet word nie. As jy twyfel, vervang eerder die bottel.

V: Hoe kan ek die potensiële kankerrisiko van BPA verminder?

A: Die BPA probleem word vererger deur die jarelange Suid-Afrikaanse gebruik en wye verspreiding van polikarbonaat-bababottels wat BPA bevat. Onlangse statistiek toon aan dat daar omtrent 5.2 miljoen kindertjies tussen 0 en 4 jaar oud is, wat daarop dui dat derduisende polikarbonaat bottels huidiglik in omloop is. Die publiek kan help om soveel as moontlik van hierdie skadelike bababottels met BPA te onttrek en daardeur BPA verwante gesondheidsrisiko’s, insluitende vetsug en veral hormonalewanfunksionering, te verminder deur aan hierdie projek deel te neem. Neem ook sorg dat polikarbonaat voedselhouers nie in ‘n mikrogolf geplaas word nie en vermy dit om plastiek kombuisgerei met die syfer “7” in ‘n driehoek en met die letters PC daaronder, te gebruik.

Meer oor  KANSA:

KANSA bied ‘n uniek geïntegreerde diens aan die publiek en aan almal wat deur kanker geraak is. As ‘n leier in kankernavorsing (meer as R5 miljoen word jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis deur ons navorsing opgedoen, aangewend om ons gesondheidsprogramme te rig en ons waghondfunksie tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons verreikende gesondheidsprogramme sluit in voorkomings- en bewusmakingsprogramme asook pasiëntsorg en –ondersteuning en ‘n tolvry inligtingsdiens.

KANSA Sorgsentrums bied stoma en limfedeemklinieke en verhuur mediese toerusting. Ondersteuning word verder gebied aan gesinne wat deur kanker geraak word. KANSA bied pasientsorg en- ondersteuning by 13 Sorgtuistes in die groot metropolitaanse gebiede, ‘n hospitium (in Polokwane) vir plattelandse kankerpasiënte en KANSA TLC Sorgtuistes vir pediatriese onkologie ouers.

Navrae KANSA

Vir verdere inligting skakel KANSA tolvry 0800 22 66 22 of e-pos: info@cansa.org.za

« BACK


Do you have a question?