Media Releases & News

Beskerm Jou Gesondheid: Jou Manlikheid is van Belang!

Beskerm Jou Gesondheid: Jou Manlikheid is van Belang!

CANSA Mens Health Logo.cdrEnglish Press Release

Oktober 2015 – KANSA se doelwit is om mans in te lig oor prostaat- en testikulêre-kanker as deel van KANSA se veldtog oor Mansgesondheid wat in November afskop. Prostaatkanker is een van die mees algemene kankers onder mans in Suid-Afrika met een uit 27 mans wat ‘n lewenslange risiko het om met prostaatkanker gediagnoseer te word.

‘Beskerm jou Gesondheid: ‘Jou Manlikheid is van Belang’ is die tema vir die veldtog en KANSA hoop om elke man aan te moedig om na sy liggaam en algemene gesondheid om te sien. Dit is belangrik vir mans om aandag te skenk aan enige veranderinge in hul liggaam, om hulself gereeld medies te laat ondersoek en om gereeld vir Prostaat Spesifieke Antigeen (PSA) toetse te gaan.

“My boodskap aan veral mans van 40 jaar en ouer, is om gereelde siftingstoetse te ondergaan en vir mans om nie na te laat om na hul gesondheid om te sien nie. Ek was deur blote toeval met kanker gediagnoseer nadat ek vir bloedtoetse moes gaan vir ‘n ander mediese toestand. As ek twee jaar later eers met kanker gediagnoseer was, sou ek dalk nie so gelukkig gewees het nie en kon ek minder opsies in terme van behandeling gehad het. Vroeë opsporing is van groot belang wanneer dit by doeltreffende behandeling van kanker kom,” sê David Lucas (58), ‘n kankeroorwinnaar van prostaatkanker. David is in 2013 met prostaatkanker gediagnoseer.

Hy deel ook die impak wat die diagnose van kanker op sy lewe gehad het: – “Om ‘n kankeroorwinnaar te word, was vir my en my gesin ‘n moeilike emosionele en finansiële uitdaging. Dit is so belangrik om voorbereid te wees en seker te maak dat jy jou gesondheid oppas. Ek is nou vol hoop omdat ek weet dat die uitdaging van kanker oorbrug kan word.”

Testikulêre kanker affekteer meestal jonger mans tussen die ouderdomme van 15 en 39. KANSA se boodskap aan jonger mans is om gereeld testikulêre selfondersoeke te doen – voel of daar enige knoppe in die testikels is (knoppe kan so klein soos ‘n korreltjie rys wees en is gewoonlik redelik ferm soos harde rubber) en enige verandering in grootte of onreëlmatigheid is. Raadpleeg jou gesondheidpraktisyn as jy enige abnormaliteit ontdek. Sien inligting oor hoe om testikulêre selfondersoeke te doen.

Gedurende November registreer mans en vroue om die wêreldwye inisiatief ‘Movember’ te ondersteun. Gedurende die maand van November groei mans oral in die wêreld snorre vir 30 dae lank om bewustheid van kanker onder mans te skep en om fondse in te samel vir mansgesondheid, en spesifiek vir prostaat- en testikulêre kanker, sowel as mans se geestesgesondheid en fisiese onaktiwiteit. Die administrasie van ‘Movember’ in Suid-Afrika word behartig deur die Men’s Foundation. KANSA is een van hierdie inisiatief se gesondheidsvennote. Vir meer inligting oor hoe om aan te teken en te registreer as ‘n ‘Mo Bro’ of ‘n ‘Mo Sista’, besoek www.movember.com of laai die inligting af op jou selfoon of tablet.

Mans kan meer inligting oor mansgesondheid bekom by jou plaaslike en naaste KANSA Sorgsentrum en ook daar reëlings tref vir siftingstoetse. Verkry meer inligting oor geskeduleerde besoeke en hoe om siftingstoetse te ondergaan by een van KANSA se Mobiele Gesondheidklinieke wat na afgeleë plekke in ons land reis.

« BACK


Do you have a question?