CANSA on the Move for the Youth

Jeug Nie Rook

Beskerm die Jeug Teen Tabak

English Press Release

Jeug Nie Rook

BESKERM ons Jeug!

15 April 2014: Op Wêreld-Tabakvryedag, 31 Mei 2014, fokus KANSA op tabakgebruik deur die jeug.

KANSA se gesondheidshoof, prof. Michael Herbst, konstateer: “Jong volwassenheid is die vatbaarste en mees kwesbare tydstip waarop met die gebruik van tabakprodukte begin kan word. Dis dus die vernaamste mikpunt van die tabaknywerheid. Ons moet ons volgende geslag beskerm teen die skadelike gevolge van tabak en teen die industrie se manipulering om van hulle nikotienverslaafdes te maak.”

Langtermyngevolge van Tabakgebruik op die Jeug

Volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie (WGO) begin die meeste mense rook voordat hulle 18 is en ʼn kwart daarvan begin reeds met tabakgebruik voordat hulle 10 jaar oud is.

Prof. Herbst gaan aan om te sê; “Die rustende harttempo van ʼn jeugdige wat rook is vinniger as die van sy portuur. Langtermyngevolge sluit kroniese siektes soos long- en maagkanker, beroerte en hartsiekte in. Navorsing toon dat daar by jongmense ʼn sterk verband is tussen aktiewe sigaretrook en nikotienverslawing, en ook tussen verminderde longfunksie, longgroei en asma.” Lees meer…

Tabaknywerheid Aktief Gerig op Jeug

Die tabaknywerheid is aktief gerig op die jeug, met aanloklike produkte en duur bemarkingstrategieë soos groot prysverminderings by feeste en musiekkonserte of bymekaarkomste. Hulle voorsien ook gegeurde sigarette en rooklose tabakprodukte (mentol, aarbei en druiwe wat nie spoeg benodig nie) en droë teesakkiegrootte snuifsakkies, oplosbare strokies en suigtablette.

KANSA waarsku die jeug teen die tabakindustrie se marktaktieke – “selfs as die produkte aandui om ‘lig’, ‘gefiltreerd’, ‘sag’, ‘laeteer-’, ‘mentol’ of ‘vrugtegegeurd’ te wees, is die gesondheidsrisiko groot. Moet dus nie geflous word deur gladde advertensies of aantreklike verpakkings nie,” verduidelik prof. Herbst.

Maatreëls om te Verhoed dat ons Jeug Mislei word

Volgens die WGO verminder treffende teen-tabakadvertensies en grafiese verpakkingswaarskuwings – veral die prentjies – die getal kinders wat begin rook en dit vermeerder die getal rookstakers.

Navorsing toon dat hoër belastings veral doeltreffend is om tabakgebruik by laer-inkomstegroepe te verminder en om jonger mense te keer om te begin rook. ʼn Belastingverhoging wat tabakpryse met minstens 10% laat klim, verlaag tabakverbruik met ongeveer 4% in hoë-inkomstelande en tot selfs 8% in die meeste lae- en middel-inkomstelande.

“Hubbly Bubbly”-, Waterpype of Turkse “Hookah”-pype Gevaarliker

KANSA waarsku teen die verhoogde gebruik van sulke pype by jongmense, want dit is veral nadelig vir nog groeiende longe en rook kan dus permanente skade aanrig. Lees meer…

Prof Herbst stel verder; “In Suid-Afrika vorm waterpype en verwante tabakprodukte, deel van die omskrywing van tabakprodukte in die Tabakprodukte-Wysigingswet (2007). Dit impliseer dat die pype se gebruik en verkope moet voldoen aan die regulasies met betrekking tot enige tabakproduk in die land – insluitend die verbod op die verkoop van sulke pype en hul produkte aan enige persoon wat nog nie 18 jaar oud is nie.”

Ken die Wet – Dis jou Reg in ʼn Rookvrye Wêreld

Elke persoon behoort tabakrook-vrye lug te kan inasem. Rookvry-wette beskerm die gesondheid van nie-rokers, is gewild, benadeel nie die sakewêreld nie en spoor rokers aan om die gewoonte te staak.

Twee tabakwette is deur die parlement in 2007 en 2008 goedgekeur. In die Staatskoerant van 21 Augustus 2009 het die parlement hierdie twee wette geproklameer wat Suid-Afrika se tabakkontrolewette verander het.

Kernpunte in hierdie wette is:

  • Volwassenes mag nie in ʼn motor rook as ʼn persoon van jonger as 12 jaar ʼn passasier is nie
  • Rook word nie toegelaat op persele nie (private huise ingesluit) wat gebruik word vir kommersiële kindersorgaktiwiteite soos crèches, of vir opvoeding en onderwys
  • Slegs persone bo 18 jaar word toegelaat in ʼn aangewese rookgebied
  • Rook word nie toegelaat in gedeeltelik-afgekampte openbare plekke soos balkonne, oordekte patio’s, verandas, loopgange en parkeergebiede nie
  • Die boete vir die eienaar van ʼn restaurant, drinkplek, kroeg of werksplek wat die rookwet verbreek, is maksimaal R50 000 en vir elke individuele roker R500
  • Die tabakindustrie mag nie langer bemarkingspartytjies hou wat jongmense teiken nie
  • Wetgewing bepaal dat geen persoon enige tabakproduk mag verkoop of beskikbaar stel aan ʼn persoon jonger as 18 jaar nie
  • Smousoutomate wat tabakprodukte verkoop, mag nie gebruik word om ander produkte soos skyfies en sjokolade te verkoop nie

Ken die wet en rapporteer diegene wat die wet verbreek.

KANSA eKick Butt Help om Op te Hou Rook

KANSA kan tabakverslaafdes help met sy eKick Butt-program – ʼn unieke gratis aanlyn-rookstaakprogram. Deur ʼn reeks e-posse, vraelyste en aflaaie word die roker gelei en bygestaan totdat hy rook staak en nie-rook ʼn lewenslange gewoonte word – nie meer net die tydsverloop tussen twee sigarette nie.

Die program voorsien ʼn reeks beproefde en betroubare vaardighede om permanent op te hou rook!

Sluit aan by Sosialemedia-besprekings

Sluit aan by sosialemedia-besprekings by hashtag #NoTobaccoDay en volg KANSA op Twitter: @CANSA of “like” KANSA op Facebook: CANSA The Cancer Association of South Africa

« BACK


Leave a Comment

Please note: Comment moderation is enabled and may delay your comment from showing. There is no need to resubmit your comment.
Comments will be made public, should they be approved.


Do you have a question?