Balanced Lifestyle

Balanseer jou Leefstyl Vandag vir ‘n Laer Kankerrisiko Môre

Balanseer jou Leefstyl Vandag vir ‘n Laer Kankerrisiko Môre

English Media Release

2 Maart 2018: KANSA sê die handhawing van ‘n gebalanseerde leefstyl kan help om die risiko vir kanker te verlaag. KANSA stem ook saam met die Wêreld Kankernavorsingsfonds (World Cancer Research Fund) se bevindinge dat mense hul risiko vir kanker met ‘n derde kan verlaag deur eenvoudig die volgende te kombineer: ‘n gesonde eetprogram, die handhawing van ‘n gesonde liggaamsgewig en gereelde fisiese aktiwiteit.

Elize Joubert, KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte sê: “Mense wat oorgewig is se risiko vir verskeie kankers is groter. Baie mense in Suid-Afrika is inderdaad oorgewig en dit sluit kinders en tieners in. Suid-Afrika het trouens die hoogste voorkoms van obesiteit suid van die Sahara met 42% vroue en 13% mans wat oorgewig is. Statistieke vir seuns en dogters toon aan dat 7% seuns en 9.6% dogters oorgewig is. Ons boodskap is dus: eet slim om jou risiko vir kanker te verlaag.” *

KANSA beveel die volgende slim en gesonde voedingswenke aan:

  • Verminder jou inname van kos en drinkgoed met hoë suikervlakke en hou daarmee vol
  • Eet min – indien enige – geprosesseerde vleis soos ham en spek en moenie meer as 500g (gewig van gaar kos) rooivleis (bees-, vark- en lamsvleis) per week eet nie. In plaas van rooivleis, gebruik ander bronne van proteïen soos, vis, pluimvee of bone
  • Eet ‘n minimum van 2.5 koppies groente en vrugte elke dag. Hierdie komplekse voedsel bevat voordelige vitamiene, minerale, vesel, karotenoiëdes en ander bioaktiewe stowwe wat kan help om die voorkoms van kanker te verlaag
  • Kies volgraan in plaas van verfynde graanprodukte
  • Eet minder sout en beperk jou inname tot minder as 6g, een teelepel (2.4g sodium), per dag

Laai PDF af

In kombinasie met ‘n slim en gesonde eetplan stel KANSA ook voor dat mense ‘n aktiewe leefstyl handhaaf. Beperk onaktiewe gedragspatrone soos sit, lê, te veel tyd voor die televisie of ander vorms van vermaak op ‘n skerm. Wees eerder fisies en aktief betrokke om aktiwiteite soos sport, spel, loop, draf, fietsry en dans te beoefen. Fisiese oefening kan help om ‘n gesonde liggaamsgewig te handhaaf.

Klim eerder trappe as om die hysbak of roltrap te gebruik. As dit moontlik is, loop of ry op jou fiets om jou bestemming te bereik. Gebruik jou etensuur by die werk om saam met ander kollegas te oefen. Moedig jou vriende en gesinslede aan om saam met jou elke dag oefening te doen. Jy kan nie die hele dag voor die rekenaar of in vergaderings sit nie – dit kos ‘n paar minute van jou tyd om op te staan, te strek of om vinnig ‘n draai te gaan loop. Loop na jou kollega eerder as om ‘n epos te stuur. Dans saam of gaan loop in jou voorstad (indien dit veilig is) as deel van ‘n oefengroep en doen sommer saam ‘n oefensessie in die park as dit moontlik is.

“Sluit aan by ons KANSA Aktiewe program en leer hoe om ‘n gebalanseerde leefstyl te handhaaf, om veilig in die son te wees sowel as om kankerbewus te wees deur ingeligte en slim keuses te maak aangaande jou dieet en leefstyl. Die program bied ook aan mense die geleentheid om deel te neem aan hul gunsteling sportsoort, wedren of resies en om terselfdertyd fondse aanlyn in te samel om KANSA se sorg- en ondersteuningprogramme te help ondersteun. Hierdie fondse word aangewend om almal wat deur kanker geraak word, te help,” voeg Elize Joubert by.

* Ng M, Fleming T, Robinson M, Thomson B, Graetz N, Margono C, Mullany EC, Biryukov S, Abbafati C, Abera SF, Abraham JP. Global, regional, and national prevalence of overweight and obesity in children and adults during 1980–2013: a systematic analysis for the Global Burden of Disease Study 2013. The Lancet. 2014 Sep 5;384(9945):766-81

Meer Oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

Vir meer inligting besoek www.cansa.org.za of www.cansa-active.org.za, of kontak KANSA tolvry by 0800 22 66 22 of of stuur ‘n epos na info@cansa.org.za – volg KANSA op Twitter, Facebook, en Instagram. KANSA bied veeltalige ondersteuning aan op  Whatsapp: 0721979305 vir Engels en Afrikaans en 0718673530 vir Xhosa, Zulu, Sotho and Siswati.


« BACK


Do you have a question?